Tuesday 17 November 2015

Tuna En Eiertertjies Met Broodkors




Tuna En Eiertertjies Met Broodkors
Lewer 6 tertjies (3 groot porsies)
Bestanddele:
6 snye brood
Olyfolie, om oor te sprinkel...
1 ui, fyn gekap
1 knoffelhuisie, fyn gekap
30 ml botter
3 ml koekmeel
60 ml melk
1 blikkie (170 g) tuna, goed gedreineer
2 ekstragroot eiers, geklits
Mespunt Dijon-mosterd
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
30 ml fyngekapte pietersielie
Metode:
Voorverhit die oond tot 200˚C en smeer 6 holtes van ’n standaardgrootte muffinpan met olie of spuit met kleefwerende kossproei. Besprinkel elke sny brood liggies met olyfolie en sny die korsies af. Rol die snye brood een vir een liggies met ’n koekroller tot ’n bietjie platter. Voer die gesmeerde muffinholtes elk met ’n sny brood uit en druk en vorm dit met jou vingers om ’n netjiese bakkie te maak. Bak die broodkorse vir ongeveer 7-10 minute, tot bros.
Braai die ui en knoffel in die botter tot sag. Voeg die meel by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die melk by en verhit tot kookpunt, terwyl jy roer. Prut vir ’n paar sekondes en voeg dan die tuna, eiers en mosterd by. Geur na smaak met sout en peper en roer die pietersielie by. Verdeel die vulsel tussen die ses broodkorse en verlaag die oondtemperatuur tot 170˚C.
Bak die tertjies vir 20 minute, tot uitgerys en ferm. Laat effens afkoel, maak die kante versigtig los met ’n tafelmes en lig die tertjies uit die muffinholtes.