Wednesday 18 November 2015

Lemmetjiestroop / Granaat-en-aarbeistroop




Vrugtestrope

 Die heerlike vars geure van hierdie tuisgemaakte vrugtestrope is ’n lekker nie-alkoholiese opsie as jy in die hoogsomer onthaal, maar werk ewe goed vir skemerkelkies.

LemmetjiestroopMaak: omtrent 1 liter
Bereidingstyd:
45 minute
Gaarmaaktyd:
10 minute


• 1 kg suiker
• sap en fyngerasperde skil van 8 vars lemmetjies
• 15 ml sitroensuur

1 Gooi die suiker in ’n kastrol, voeg 500 ml water by en verhit dit tot kookpunt terwyl jy dit roer tot al die suiker opgelos het. Laat die stroop vir vyf minute prut.

2 Voeg die lemmetjiesap en sitroensuur by en laat dit afkoel. Wanneer dit amper afgekoel het, kan jy die lemmetjieskil byvoeg. Laat dit vir 2-3 uur eenkant staan.

3 Gooi die stroop deur ’n moeseliendoek om van die skil ontslae te raak. Gebruik ’n tregter om dit in gesteriliseerde bottels te gooi. Seël dit. Sit dit voor deur dit met yskoue water of sodawater te verdun, of gebruik dit in ’n mengeldrankie.

Granaat-en-aarbeistroop

Maak: omtrent 1 liter
Bereidingstyd:
45 minute
Gaarmaaktyd:
10 minute

• 1 kg suiker
• 140 g granaatpitte
• 250 g vars aarbeie, gewas, blare verwyder en dan fyngekap
• 5 ml sitroensuur
• 5 ml gerasperde suurlemoenskil

1 Gooi die suiker in ’n kastrol, voeg 500 ml water by en verhit dit tot kookpunt terwyl jy dit roer tot al die suiker opgelos het. Laat die stroop vir vyf minute prut.

2 Voeg die granaatpitte en fyngekapte aarbeie by en laat dit vir vyf minute liggies prut. Haal dit van die plaat af.

3 Roer die sitroensuur en suurlemoenskil by en sit dit eenkant om heeltemal af te koel.

4 Gooi die stroop deur ’n moeseliendoek om van die skil ontslae te raak. Gebruik ’n tregter om die stroop in gesteriliseerde bottels te gooi. Seël dit. Sit dit voor deur dit met yskoue water of sodawater te verdun, of gebruik dit in ’n mengeldrankie.