Monday 14 September 2015

SUURLEMOEN SOUFFLE VIR DIABETE




SUURLEMOEN SOUFFLE VIR DIABETE
Genoeg vir: 4-6
Bereidingstyd: 35 minute
Baktyd: 12-15 minute
Oondtemperatuur: 180°C...
250 ml suiker-plaasvervanger, soos SugaLite
60 ml vars suurlemoensap, deur ’n siffie gedruk
15 ml koekmeel
5 groot eierwitte, teen kamertemperatuur

METODE:
1 Spuit ’n ligte lagie kossproei in vier ramekins (of gebruik een groot soufflé-bak). Sprinkel 10 ml van die suiker-plaasvervanger daaroor en skud oortollige suiker uit.
2 Maak ‘krae’ vir die soufflés deur stroke bakpapier te sny wat om die ramekins pas en 3-4 cm bo die rand uitsteek. Bind dit met tou vas en pak die ramekins op ’n bakplaat.
3 Verhit die suurlemoensap, 160 ml suiker-plaasvervanger en 50 ml water saam oor lae hitte. Roer tot die suiker-plaasvervanger opgelos het. Verhit tot kookpunt.
4 Meng die meel met 30 ml water en roer om ’n pasta te vorm. Voeg ’n bietjie van die warm stroop by die pasta en roer. Gooi dit terug in die kastrol en roer aanhoudend vir ’n minuut. Haal van die plaat af en laat heeltemal afkoel.
5 Klits die eierwitte met ’n elektriese klitser in ’n skoon bak tot dit sagte punte vorm. Voeg die orige suiker-plaasvervanger bietjies-bietjies by en klits goed tot dit opgelos het.
6 Gooi die suurlemoenmengsel in ’n groot bak. Vou omtrent ’n kwart van die eierwit by die suurlemoenmengsel in, en vou dan die res liggies in. Skep gelyke hoeveelhede in die ramekins. Maak die bokante glad en trek die agterkant van ’n teelepel al om die rand. Bak vir 12 tot 15 minute tot goudbruin. Haal die kragies versigtig af en sit dadelik voor.