Friday 18 September 2015

Mediterreense hamburger-resep




Mediterreense hamburger-resep
Patties
Varkvleis hou die patties lekker sappig.
  • 500 g gemaalde maer varkvleis
  • 500 g gemaalde maer beesvleis
  • 2 eiers, geklits
  • 2 snye witbrood, gekrummel
  • 2 groot knoffelhuisies, fyngekap
  • 10 ml rooi brandrissiepasta (of so 3 fyngekapte vars brandrissies)
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • sap van ½ suurlemoen
  • groot hand vol vars koljanderblare, grofgekap
  • 10 ml fyn komyn, drooggebraai vir ekstra geur
  • 10 ml koljandersaad, effens fyngemaak met ’n stamper en vysel
  • 5 ml growwe sout
  • 5 ml grofgemaalde swartpeper
Meng al die bestanddele saam. Smeer jou hande met olyfolie. Verdeel die mengsel in 10 stukke en vorm patties so groot soos jou handpalm. Plaas die patties vir minstens 2 uur op ’n gesmeerde bakplaat in die yskas sodat die geur kan ontwikkel.
Tzatziki
  • 1 komkommer, gerasper
  • 150 ml Bulgaarse jogurt
  • 1 groot knoffelhuisie, fyngekap
  • 15 ml vars kruisement, fyngekap
  • sout en grofgemaalde peper na smaak
Pers die gerasperde komkommer met jou hande saam oor die wasbak sodat al die oortollige sap afloop. Meng met die ander bestanddele en hou verkoel.
EKSTRA BYKOMSTIGHEDE
  • vars slaaiblare van jou keuse
  • 125 ml songedroogde tamaties in olie, grofgekap (ek verkies Ina Paarman s’n)
  • 1 eiervrug, in dik skywe gesny, met olyfolie geverf, gegeur met sout en peper en in ’n riffelpan gebraai tot sag
  • ½ rooi-ui, in dun ringetjies gesny
  • 10 gebotterde baps (sagte, wit rolletjies met ’n fyn poeierlagie meel)
Verf ’n braairooster goed met olyfolie. Braai patties so 10 minute oor warm kole tot gaar, maar nog lekker sappig. Pak intussen ’n paar slaaiblare, ’n lepel vol songedroogde tamatie, ’n skyf geroosterde eiervrug en ’n paar uieringetjies op elke bap. Plaas ’n warm patty bo-op, gevolg deur ’n lekker groot lepel vol tzatziki. Sit dadelik voor