Friday 18 September 2015

Boereworsrolle met vinnige smoor




Boereworsrolle met vinnige smoor
(6 PORSIES)
◾60 ml olyfolie
◾5 uie, gehalveer en in skywe gesny
◾1 knoffelhuisie, fyngekap
◾300 g klein rosa-tamaties
◾sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
◾500 g boerewors (van jou keuse)
◾6 mini-baguettes
◾30 ml botter
◾vars roket om mee voor te sit
Verhit die helfte van die olyfolie in ’n diep pan. Voeg uie en knoffel by en braai oor lae hitte. Dit gaan nogal ’n goeie halfuur neem. As die temperatuur van die plaat te hoog is, sal die uie brand en bitter wees. Roer so elke nou en dan. Verhit die res van die olyfolie in ’n ander pan en braai die tamaties tot net sag. Dié smoor is nie een van daardie resepte waar alles saam tot ’n sous kook nie. Wanneer uie bruin is en tamaties sag, geur dit met sout en peper. Meng die tamaties en uie saam. Intussen kan jy die wors in ’n pan braai. Ek gooi altyd sowat 60 ml water in die pan en begin die wors in die water braai. Teen die tyd dat die water weggekook is, is die wors byna gaar. Draai die wors om. Verhoog hitte en braai wors tot mooi bruin. Sny baguettes oop, smeer met botter, en sit stuk wors en bietjie smoor in elk. Sit voor saam met vars roket – dit gee ’n heerlike ekstra smaak.