Friday 4 September 2015

Koningklip-sosaties



Koningklip-sosaties
Voel vry om te eksperimenteer met verskillende soorte vis; selfs skulpvis soos oesters sal heerlik wees.
Genoeg vir 4.
Jy benodig:
8 sosatiestokkies van hout
1 knoffelhuisie
60 ml olyfolie
1 kg koningklip, vel en grate ­verwyder
5 suurlemoene
60 ml wit sesamsaad
ongeveer 15 ml swartpeper
ongeveer 15 ml soutvlokkies
2 Engelse komkommers
15 ml sesamsaadolie
15 ml vars tiemieblare
60 ml vars pietersielie
25 ml heuning
25 ml lemoenbloeiselwater
5 ml komynsaad
250 ml ertjie-spriete, om mee voor te sit
Só maak ’n mens:
1. Maak jou vuur en maak die rooster skoon met koerantpapier. Sny die knoffelhuisie in die lengte
middeldeur en vryf dit oor die skoon rooster. Dit gee ’n heerlike, ligte knoffelgeur sonder dat dit oorweldigend is.
2. Week die sosatiestokkies minstens ’n halfuur in water. Dit keer dat hulle aan die brand raak wanneer jy die sosaties braai.
3. Sny die vis in ongeveer 40 blokkies – ’n porsie is twee sosaties en elke sosatie vereis ongeveer vyf stukke vis.
4. Sny drie van die suurlemoene in dun skyfies. Ryg die vis en suurlemoenskyfies om die beurt op die stokkies (eindig en begin altyd met ’n skyfie suurlemoen). Ons het die suurlemoenskyfies in die helfte gevou voordat ons dit op die stokkies geryg het en het die stukkies vis gebruik om die suurlemoen in plek te hou.
5. Bestryk die sosaties met die olyfolie en geur met sout en peper. Hou eenkant totdat die vuur gereed is vir braai.
6. Sny die komkommer in lang, dun repies. Indien moontlik, gebruik ’n mandoliensnyer om regtig papierdun skyfies te sny. Sprinkel sout en peper oor die repies en braai dan net 30 sekondes aan ’n kant of totdat die komkommer roostermerke aan albei kante het. Plaas die repies reguit van die vuur in ’n mengbak en voeg die sesamsaadolie, tiemieblare, komynsaad, heuning en ­lemoenbloeiselwater by.
7. Rasper die skil van een suurlemoen baie fyn en voeg dit by die komkommer. Druk ook die sap van daardie suurlemoen en die vyfde suurlemoen uit en voeg dit ook by die komkommer. Kap die pietersielie fyn en voeg dit ook by. Meng liggies en plaas die slaaitjie in die yskas totdat jy dit gaan voorsit.
8. Braai die sosaties 3-4 minute aan ’n kant (hang af van hoe dik jy die vis gesny het).

9. Verwyder van die hitte en sprinkel die sesamsaad oor. Sit die sosaties dadelik voor saam met die komkommerslaai en garneer met die ertjie-spriete.