Tuesday 29 September 2015

Glutenvrye karringmelk-skons




Glutenvrye karringmelk-skons

Maak: 12-16
Bereidingstyd:
15 minute
Baktyd:
12-15 minute
Oondtemperatuur:
200 °C

• 500 ml (290 g) glutenvrye meelmengsel (daar moet xantaan-gom in wees)
• 15 ml bakpoeier
• 25 ml strooisuiker
• 135 ml (125 g) koue botter, in blokkies gesny
• 1 groot eier
• 100 ml karringmelk
• 60 ml water of melk
• vars room en aarbeikonfyt om voor te sit

1 Sif die meel, bakpoeier, suiker en 2 ml sout saam in ’n groot bak.

2 Vryf die botter by die droë bestanddele in tot die mengsel soos fyn broodkrummels lyk. Werk vinnig sodat die mengsel nie warm word nie.

3 Meng die eier, karringmelk en water of melk saam in ’n aparte bak. Maak ’n holte in die middel van die droë bestanddele en gooi die nat bestanddele daarin. Gebruik ’n stomp mes en sny liggies deur die mengsel om die nat en droë bestanddele te meng. Druk die meel aan die kante liggies by die mengsel in om ’n sagte deeg te vorm. Moenie knie of te veel meng nie.

4 Druk die deeg liggies op kleefplastiek uit tot 2-3 cm dik. Druk ’n skon- of ronde koekiedrukker in ekstra meel en druk skons uit. Pak op ’n gevoerde bakplaat en bak vir 12 tot 15 minute in die verhitte oond. Laat vir ’n paar minute afkoel en sit voor met geklopte vars room en aarbeikonfyt.