Wednesday 5 August 2015

Swartwoudkoek




Swartwoudkoek

Daar is min dinge so lekker soos ‘n romerige aarbei-en sjokoladesmaak in jou mond… hierdie resep is hemels!
Sjokoladekoek
500ml (260g) koekmeel
20ml bakpoeier
125ml (50g) kakaopoeier
1,5ml sout
300ml (240g) suiker
4 eiers, geskei
150ml sonneblomolie
250ml louwarm water
5ml vanielje-essens
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer en voer twee koekpanne, 22cm tot 24cm in deursnee. Sif die meel, bakpoeier, kakao, sout en 250ml (200g) van  die suiker saam in ‘n mengbak. Gebruik ‘n skoon bak en meng die eiergele, olie, louwarm water en die vanielje-essens saam. Klits goed. Voeg die eiergeelmengsel by die droë bestanddele en meng om ‘n beslag te maak – moet dit nie te veel meng nie. Klits die eierwitte styf. Voeg die orige 50ml suiker by en klits nog ‘n bietjie. Vou die eierwitte by die beslag in. Giet die beslag in die bereide koekpanne en bak vir sowat 20 minute. Laat heeltemal afkoel op ‘n draadrak.
Ander bestanddele vir die saamstel van die koek
80ml kersielikeur (Kirsch)
1 liter vars room
50ml vanielje-esssens
70ml (60g) strooisuiker
250ml (330g) kersiekonfyt
1 blik (410g) ontpitte swart morellokersies (suurkersies)
Cadbury Flake vir versiering
Stel die koek saam. Sny elk van die afgekoelde koeke horisontaal in die helfte deur. Besprinkel elk met die kersielikeur. Klop die room, vanielje en  strooisuiker saam tot dit styf is. Smeer van die kersiekonfyt oor elk van die koeklae – doen dit baie liggies sodat die koek nie breek nie. Haal die kersies uit die blik en laat hulle deeglik dreineer. Sny die meeste van die kersies in die helfte deur, maar hou ‘n paar heel om die koek mee te versier. Plaas die gehalveerde kersies bo-op die konfyt, gevolg deur ‘n laag styfgeklopte room. Stapel die koeklae opmekaar om die res van die koek saam te  stel. Bedek net die bokant van die koek met die orige styfgeklopte room. Versier met Cadbury Flake en die behoue kersies.