Friday 17 July 2015

Bolognaise




BOLOGNAISE
Jy benodig: 1kg maalveis, 2 blikkies goeie gehalte, fyngekapte tamaties (enige Italiaanse maak soos Serena sal nie teleurstel nie), 2 groot wortels, sommer ’n hele seldery – stingels, blare en al, 4 groot preie of 2 groot uie of ’n kombinasie van die twee, 2 groot aartappels, vars kruie en knoffel na smaak. ’n Handvol salieblare en ’n paar takkies roosmaryn ruik en proe warm en uitnodigend, terwyl
oreganum, tiemie en basiliekruid sorg vir tradisioneel Middellandse bolognaise-geure. Die kruie word fyngekap en die groente word als in klein blokkies of ringe gesny.
WENK: supermarkte verkoop deesdae vars voorbereide sopgroente wat reeds in blokkies gesny is. Die “country soup”-weergawe is volmaakte bolognaise-groente en spaar jou die moeite om die heelmiddag om te kap. Koop 2 pakke. Dit vervang dan al die groente op die lys hierbo. As jy die dag die jackpot slaan, is hierdie sopgroente op uitverkoping vir R10 ’n pak. Dan koop jy vier en maak 2 potte sous.
Vehit olyfolie of botter in die konka. Roerbraai die knoffel, kruie, preie en uie vir ’n minuut of vyf en voeg dan die groente by. Roer als ’n keer of wat om en sit die deksel op, sodat die groente oor matige hitte sag kan sweet.
Voeg nou die maalvleis en genoeg sout by. Dolwe weer die pot om en voeg nou die twee tot drie blikke gekapte tamaties by, sowel as drie blikke water.
Nou moet jy jou sousie kans gee om geure te meng en langsamerhand gaar te word. Dit moet ten minste vir ’n uur op die stoof prut, onthou maar net om gereeld te roer en die vloeistof dop te hou.