Tuesday 28 July 2015

Bobotie bakkies



Bobotie bakkies
Al wat jy nodig het is…
2E gewone kookolie
250g bees maalvleis
250g skaap maalvleis (of vervang met bees)
1 koppie fyngekapte uie
1¼t borrie
1t fyn gemmerpoeier
2½t medium-sterkte kerriepoeier (ek gebruik Rajah)
1 sny witbrood sonder korsies in ’n ¼ koppie melk geweek
1 sakkie goeie beesaftreksel (ek’t Woolworths se ‘Demi Glacé Concentrate Beef Stock’ gebruik)
skil van 1 suurlemoen, fyn gerasper
1t sout
¼t growwe swartpeper
4E bruin druiwe-asyn
4E appelkooskonfyt (die fyn een sonder stukke)
¾ koppie water
½ koppie pitlose rosyntjies
¼ koppie gepelde heel amandels (m.a.w sonder die skilletjie), plus 6 ekstra vir bo-op
1 koppie karringmelk (of natuurlike joghurt)
2 ekstragroot eiers
3 lourierblare, in die helfte gesny met die lengte langs
filodeeg
¼ koppie botter, gesmelt
Braai die uie in die olie tot ligbruin. Voeg die speserye by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die vleis by en braai, al roerend, tot bruin. (Voeg bietjie ekstra olie by as die pan te droog raak.)
Voeg die beesaftreksel, brood, suurlemoenskil, sout, peper, asyn en appelkooskonfyt by, asook die water. Bedek en prut oor ’n lae hitte vir 30 minute. Die water behoort alles te verdwyn en die vleismengsel dik te wees. Indien nie, kook dit eenvoudig vir ’n paar minute sonder die deksel. Voeg die rosyne en die amandels by vir die laaste 5 minute se kook. Verwyder van die hitte en laat effe afkoel.
Verf die holtes van ’n groot ‘muffin’-pannetjie met botter. Verf ’n laag filodeeg met botter en bedek met nog ’n laag deeg. Verf dié ook met botter en herhaal die proses tot jy vier lae deeg het. Sny die deegstapel in vierkante groot genoeg om 1.5cm by die ‘muffin’ pannetjies uit te steek en voer die pannetjies met die deeg. Klits die eier en karringmelk saam. Skep die filo bakkies driekwart vol vleis en skep dan ’n groot lepel van die eiermengsel bo-op die vleis. Steek ‘n halwe loerierblaar in elke bakkie en sit ’n laaste amandel op vir die mooi.
Bak in ’n 175 grade Celsius oond tot die eiermengsel deurgekook en opgepof is – 25-35 minute. Bedien dadelik met Mrs Ball’s blatjang en ’n outydse tamatie-en-uie slaai (sien goed om te weet hieronder). As jy ’n groot ‘muffin’ pannetjie gebruik, maak hierdie resep ses individuele bobotie bakkies.