Wednesday 22 July 2015

Bak gesonde koekies in 30 minute




Kosblik-idee: Bak gesonde koekies in 30 minute

Maak: sowat 20
Bereidingstyd:
15 minute
Baktyd:
15 minute
Oondtemperatuur:
190 ̊C

• 85 ml (85 g) sagte botter
• 175 ml (150 g) strooisuiker
• 1 groot eier
• 275 ml (150 g) koekmeel
• 2,5 ml bakpoeier
• 5 ml fyn kaneel
• 200 ml (75 g) hawermout
• 120 ml (50 g) gekapte pekanneute

1 Gooi al die bestanddele in ’n groot mengbak en meng goed.

2 Skep lepels vol van die mengsel op gesmeerde bakplate en druk dit effens plat. Laat genoeg ruimte tussenin sodat die koekies kan sprei.

3 Bak vir 15 minute in ’n voorverhitte oond of tot goudbruin. Haal uit die oond uit en laat afkoel voor jy die koekies van die bakplate afhaal.

Variasies
• Bak sjokoladeneut-koekies deur die kaneel weg te laat en 5 ml vanieljegeursel by te voeg. Sprinkel sjokoladeblokkies oor die koekies en druk dit liggies vas voor jy die koekies bak.
• Maak ’n grondboontjie-en-kersie-variasie deur die kaneel en pekanneute weg te laat en 85 ml korrelrige grondboontjiebotter en 50 ml gekapte glanskersies by te voeg.
• Vir rosyntjie-en-sesamkoekies moet jy die neute weglaat en 50 ml rosyntjies en 15 ml sesamsaad byvoeg.