Friday 17 April 2015

Tuisgemaakte hamburgers



Tuisgemaakte hamburgers

 

Deur: Heleen Meyer

Bestanddele
500 g maer bees- of volstruismaalvleis
1 ui, gerasper
2 wortels, gerasper
1 eier, geklits
60 ml (¼ k) goeie gehalte blatjang van jou keuse, bv. appelkoos of tamatie
15 ml (1 e) gedroogde gemengde kruie
60 ml (¼ k) gekapte vars Italiaanse pietersielie of ’n mengsel van pietersielie, origanum en tiemie
suurlemoensap,sout en peper
’n bietjie olyf- of avokado-olie om dit in te braai
4-5 volkoring broodrolletjies
slaaibestanddele van jou keuse

Metode
1. Plaas al die bestanddele, behalwe die olie, brood en slaaibestanddele, in ’n groot mengbak en meng alles deeglik saam. Dit werk goed om dit met jou hande te meng, maar moenie die vleis te veel saampers nie. Geur na smaak met suurlemoensap, sout en peper.
2. Vorm die maalvleismengsel in 4-5 ewe groot hamburger-vleisies.
3. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n groot braaipan. Braai aan beide kante tot goudbruin.
4. Verlaag die hitte, sit ’n deksel op en prut 2-3 minute of tot gaar. Skep uit en sit op broodjies met slaaibestanddele en souse van jou keuse.
Wenke
1. Braai groot bruin sampioene in ’n klein bietjie olie en geur met vars kruie, knippie sout en peper. Dis ’n heerlike vegetariese alternatief.
2. Gebruik enige kruie kombinasie, bv. tiemie en roosmaryn of koljander en kruisement. Vars salie is ook heerlik.
3. Voeg speserye by indien verkies. Gemaalde komyn en koljander of matige kerriepoeier is heerlik.
Vrae om ‘groen leef’ prakties te maak:
1. Wat kan komposhoop of wurmplaas/bokashi-emmer toe gaan?
- enige kosafval is geskik vir die bokashi-emmer
- onthou dat suiwel, uie, knoffel en sitrus nie vir die wurmplaas gebruik kan word nie
2. Hoe kan ek die resep so gesond as moontlik maak?
- geur die vleisies met vars bestanddele soos groente en kruie en so min as moontlik sout
- gebruik maer maalvleis en ’n gesonde olie om die vleisies in te braai
3. Wat kan ek hersirkuleer of weer gebruik?
- was enige leë houers uit en plaas in hersirkuleer-sak of bêre vir ’n ander kreatiewe doel
4. Wat maak die resep nog meer omgewingsvriendelik?
- braai vleis oor ’n matige hitte – dit spaar krag en verhoed dat die vleis oorgaar en droog word