Monday 9 February 2015

Sampioen Souttert




Sampioen Souttert

Kors:
350g Koue Botter
75gr Koue Water
450g Koekmeel
Sout & Peper na smaak

Vulsel:
500g Gemengde Sampioene
1 Ui, geskil en gekap
1 Knoffelhuisie, gekap
Takkie Roosmaryn of Tiemie, gekap
1 ½ Koppies vars Room
4 Eiers
150g Feta Kaas

Metode:
-Plaas die Koekmeel, Roosmaryn of Tiemie, Sout & Peper in ‘n groot mengbak en roer deur.
-Rasper nou die yskoue Botter oor die Meelmengsel. Neem van die meel in die mengbak en strooi dit liggies oor die gerasperde botter.
-Begin nou om die botter liggies met jou hande in die meel in te vryf totdat dit soos broodkrummels lyk.
-Weeg die koue water af en voeg dit by die meelmengsel. Meng liggies met jou hande totdat die deeg bymekaar kom. Gooi uit op ‘n werksoppervlak, en bring die deeg bymekaar tot glad. Werk vinnig maar maak seker dat jy nie die deeg oorwerk nie.
-Verdeel die deeg in twee, vorm elk in ‘n plat sirkel en bedek met kleefplastiek. Verkoel vir ‘n paar uur of vries vir later.
-Sodra jou deel heeltemal verkoel is, verwyder uit die yskas en plaas op jou werksoppervlak wat met meel besprinkel is. Rol die deeg uit in ‘n sirkel van sowat 3mm dik en heelwat groter as jou tertpan.
-Lig die deeg versigtig op en voer die tertpan uit met die deeg. Werk die deeg versigtig in die hoeke in en as daar enige gate in die deeg druk dit versigtig bymekaar om dit te seël.
-Plaas die tertpan met die deeg nou in die yskas vir 20 minute om te rus en te verkoel.
-Stel solank jou oond op 180°C.
-Sodra die deeg koud is, verwyder uit die yskas en voer die tertpan uit met ‘n vel bakpapier. Gooi nou ‘n mengsel van Rys, Bone of Lensies bo-op die bakpapier totdat dit die helfte van die tertpan vul.
-Plaas die tertpan in die warm oond en bak vir 15 minute, haal die tertpan uit die oond en verwyder die bakpapier en Rysmengsel versigtig.
-Gebruik ‘n vurk en prik die bodem van die deeg, dit sal verhoed dat die bodem oplig tydens die tweede bak. Plaas kors nou terug in die oond en bak verder vir 10 minute, verwyder en laat afkoel terwyl jy die vulsel voorberei.
-Vir die vulsel; Begin deur die Ui, Knoffel & Roosmaryn in ‘n paar Eetlepels Olyfolie gaar te maak. Net voor die Uie heeltemal sag is, voeg die Sampioene by en kook tot gaar. Verwyder van die hitte en laat dit afkoel terwyl jy die res van die vulsel voorberei.
-Plaas die Eiers en vars Room in ‘n mengbak en klits liggies tot gemeng, plaas nou die koel Sampioenmengsel by en roer deur.
-Krummel meeste van die Feta by die mengsel, hou ‘n klein stukkie Feta vir later as die Souttert uit die oond kom. Roer die mengsel deur en gooi versigtig in die kors in.
-Plaas die tert terug in die oond en bak teen 180°C vir sowat 40 minute of totdat die middel net gestol is. Verwyder uit die oond en laat afkoel. Krummel die laaste bietjie Feta bo-oor net voor bediening.