Thursday 23 October 2014

Springbokkie-kolwyntjies




Kolwyntjies met Skop (resepteboek) - Simone Balman
Springbokkie-kolwyntjies
Jy het nodig:
...
3 k (425 g) koekmeel
1 ½ k (300 g) suiker
4 t (20 ml) bakpoeier
1 t (5 ml) sout
½ k (125 ml) melk
½ k (125 ml) Amarula
1 k (250 ml) plantolie
4 groot eiers
2 E (10 ml) vanieljegeursel
Vlavulsel
½ k (125 ml) room (verdeel dit in 2 x ¼ koppies)
½ k (125 ml) pepermentlikeur
5 E (70 g) suiker
2 E (30 ml) mielieblom
2 eiergele
1 heel eier
2 E (30 ml) botter
1 t (5 ml) vanieljegeursel
Versiersel
½ k (115 g) botter of bakmargarien
2 ½ k (280 g) gesifte versiersuiker
4 E (60 ml) Amarula
Versierings
Groen voedselkleurseljel
Roomkleurige koekglinsterstof
Só maak ‘n mens:
1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer 24 holtes van kolwyntjiepanne met papiervorms uit.
2. Sif al die droë bestanddele saam in die mengbak van ‘n elektriese menger. Voeg die melk, Amarula, olie, eiers en vanieljegeursel stadig by en klits goed tot sag en romerig. Skep lepelsvol beslag versigtig in elke papiervorm totdat dit sowat ¾ vol is. Bak vir 17 – 20 minute of totdat ‘n pen wat in die middel van ‘n kolwyntjie gesteek word skoon uitkom. Laat dit vir sowat 5 minute in die panne afkoel voordat jy dit op ‘n rak uitkeer.
3. Om die vlavulsel te maak, voeg die een ¼ koppie room, pepermentlikeur en suiker in ‘n pan. Bring tot kookpunt en haal van die stoof af.
4. Klits die mielieblom en die ander ¼ koppie room in ‘n medium bak saam en klits dan die2 eiergele en 1 heel eier in. Giet een derde van die kokende pepermentlikeurmengsel by die eiermengsel, maar onthou om gedurig te klits terwyl jy dit doen sodat die eiers nie gaar word nie. Giet die mengsel in die bak in ‘n dun straaltjie by die warm pepermentlikeurmengsel in die pan terwyl jy gedurig roer. Plaas die pan weer op die stoof en klits aanhoudend tot die mengsel soos baie dik vla lyk. Haal van die stoof af en klits die botter en die vanieljegeursel in. Laat afkoel.
5. Sny holtes 1 ½ - 2 cm diep met ‘n appelboor, klein ronde koekiesnyer of ‘n mes in die bokante van die afgekoelde kolwyntjies. Sny die onderste dele van hierdie stukkies koek af en hou die bokante as deksels. Skep die afgekoelde vlavulsel in die holtes in die kolwyntjies en vul dit tot byna heel bo. Sit die deksels weer op.
6. Om die versiersel te maak, verroom die botter goed met ‘n elektriese menger. Voeg die helfte van die versiersuiker geleidelik by totdat dit goed gemeng is. Voeg om die beurt ‘n bietjie van die Amarula en die res van die versiersuiker by totdat die versiersel dik genoeg lyk om te smeer of te spuit.
7. Om die groen streep in die versiersuiker te kry, verf groen voedselkleurseljel in ‘n streep aan die binnekant van die spuitsak en vul dit dan met versiersel. Toets dit eers voordat jy dit op die kolwyntjies aanwend. Versier die kolwyntjies met die versiersel en strooi ‘n bietjie koekglinsterstof oor.