Wednesday 17 September 2014

Gevulde eiervrug




Gevulde eiervrug

’n Geurige, maar stewige vegetariese gereg óf bykos.

Genoeg vir: 4
Bereidingstyd: 25 minute
Gaarmaaktyd: 40 minute
Oondtemperatuur: 180 °C

Bestanddele:
• 1 middelslag-aartappel
• 2 groot eiervrugte
• 15 ml olyfolie
• 1 klein ui, gekap
• 4 klein pruimtamaties, geskil, ontpit en gekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 5 ml tamatiepasta
• origanum, tiemie
• 4 bocconcini-mozzarellaballetjies
• 100 ml varsgerasperde parmesaankaas
• vars brood

1 Sny die aartappel in dun skyfies en kook dit in soutwater tot net gaar. Dreineer en druk droog.

2 Halveer die eiervrugte en hol dit uit, maar los ’n rand van sowat 5 mm reg rondom sodat dit ’n dop vorm. Verhit die olie in ’n pan en braai die eiervrughelftes met die skilkant na bo vir sowat 5 minute of tot goudbruin. Draai dit om en braai die onderkant vir nog 3 minute. Pak dit in ’n vuurvaste oondskottel.

3 Sny die eiervrugvlees in blokkies en braai tot dit begin bruin word. Voeg die ui, tamaties, knoffel en tamatiepasta by. Geur met kruie, sout en peper en laat prut stadig vir 15 minute tot geurig.

4 Skep ’n opgehoopte lepel vulsel in elke eiervrugdop. Pak ’n lagie aartappel daarop en vul met die res van die groentemengsel. Skeur die mozzarella en pak dit boop, sprinkel die parmesaan ook oor en bak, bedek, vir 30 minute. Verwyder die deksel vir die laaste 10 minute sodat die eiervrugte kan verbruin en sit dit teen kamertemperatuur voor met vars brood.