Thursday 28 August 2014

Provencaalse kiep in rooiwyn




Provencaalse kiep in rooiwyn

Jy het nodig:

* ’n Beskaafde bottel sagte shiraz (Ken Forrester s’n sal doen)
* 8 hoenderboudjies en 8 dye
* 3 e sonneblom- of grondboonolie
* twee sakkies salotte
* vars, geskilde knoffel
* lourierblare, vars takkies tiemie en fyngekerfde roosmaryn
* ’n blikkie Italiaanse tamaties
* tamatiepuree
* gedroogde Porcini-sampioene
* Sout en peper as geursel
* ’n suurlemoen (net die skil, boet – die sap kan jy uitdruk vir jou mengeldrankie voor die ete!)
* sowat 20 swart olywe
* 500 g goeie tagliatelle-pasta

Kook die bottel rooiwyn in ’n kastrol op die stoof tot hy met die helfte ingedamp is. Nou giet jy hierdie 1½ koppie oor 16 porsies hoender: 8 boudjies en 8 dye, om almal se fiemies tevrede te stel.

Die kiep moet vir ’n uur week, daarna haal jy die hoenderstukke uit, droog dit deeglik af en verbruin dit goed in grondboonolie tot stewig gekarameliseer.

Skil nou twee sakkies baie goeie salotte en roerbraai dit saggies in jou gietyster- kasserol met 4 fyn knoffeltone.

Ná 7 minute voeg jy twee lourierblare by, asook ’n takkievol vars tiemieblare, ’n eetlepel fyn roosmaryn en ’n blikkie heel Ita­liaanse tamaties (wat jy self growwerig in blokke kap – die klaargekaptes is futloos) saam met 2 eetlepels tamatiepuree.

Sit al die hoenderstukke terug in die pot saam met die wynmarinade, asook die 35?g droë Porcini-sampioene wat jy reeds vir ’n halfuur in ’n koppie kookwater geweek en toe fyngesny het. Skink daardie sampioene se weekwatertjies saam in, nie ’n enkele druppel se geur mag verlore gaan nie.

Die hele besigheid gaan vir 2 uur oond toe teen ’n skamele 110 °C.

In teenstelling met jou eie knorrigheid mag dit glad nie kook nie, net die geringste prut word toegelaat.

Ná twee uur maak jy seker daardie hoendertjie is só sag hy kan nou maar met ’n teelepel van die been af geëet word, dan haal jy die pot uit, en sodra dit goed afgekoel is, parkeer dit oornag in die yskas.

Op die Maandag haal jy ta vroegmiddag uit en so teen sesuur maak jy als net warm, weer in die oond, teen 100 °C vir so 20 minute. Skep nou die kiep versigtig uit en verdik daardie rooiwyn-en-salot-sous na wens. Skep die kiep terug in die skottel en hou die skottel lekker warm.  Buiten die bykos, loop jou beker teen nou al oor van vreugde. As pasmaat vir die kiep kan jy in een van drie rigtings windslaan.

Daar’s rys, natuurlik. Goeie ou basmati, onopgesmuk en net-net deurgestoom (jy kan tog rys kook, nie waar nie?) Dan is daar natuurlik die opsie van kapokaartappels, druppend van room en botter in so ’n mate dat dit ’n kongres vol kardioloë sal laat glimlag in afwagting.

My gunsteling is egter ’n gerf tagliatelle: Kook genoeg (sowat 70 g vir elkeen van jou tafelmaats), dan skink jy eers ’n stewige skep sous bo-oor en dan vir elk ’n hoenderporsie of twee.

Sprinkel vinnig op elke bord ’n bietjie ge-rasperde suurlemoenskil bo-oor, asook ’n frisse vingerknyp gekapte swart olywe. Dis after all ’n Provencaalse kiep, g’n nikse ge-coq au vin à la Bourgogne nie!

En wanneer als klaar verslind is, met ’n stuk baguette en ’n knerts groenslaai daarmee saam, sit jy behaaglik terug en dink aan Edward Young se woorde oor omstandighede: “Who does the best that circumstances allow, does well, acts nobly; angels could do no more…”

(Rapport)