Thursday 5 June 2014

KOOL FRIKKADELLE




KOOL FRIKKADELLE:

Resep 1:
1 groot koolkop
1 pak spekvleis, gesnipper
3 uie, fyn gekap
250g sampioene
1kg maalvleis

sout en peper
speserye vir vleis
2 ekstra groot eiers
250ml witwyn

Voorverhit die oond tot 180C, en smeer ‘n oondbak. Trek die buiteblare van die koolkop af en kook die hele koolkop ongeveer 10 minute lank in kokende soutwater totdat die blare net sag is. Verwyder van die hitte en laat staan in water tot effens afgekoel. Braai die spekvleis, sampioene en uie tot net gaar. Skep onder in die mengbak. Meng die maalvleis, sout en peper en speserye na smaak met die eiers en vorm frikkadelle. Rol elke frikkadel in een of twee koolblare toe en rangskik op die spekmengsel. Herhaal totdat alles opgebruik is. Giet die wyn oor, bedek met foelie en bak ongeveer 1 uur tot die frikkadelle gaar is. Verwyder die foelie 10 minute voor die baktyd verstreke is.

Lewer 6-8 porsies.

Resep 2:
6 porsies.

500 g beesmaalvleis
500 g varkmaalvleis
250 ml sagte broodkrummels
10 ml fyn koljander
1 ml fyn naeltjies
1 ml fyn neut
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
25 ml asyn
6 groot vars koolblare

Verhit jou oond tot 150 °C.
Meng die twee soorte maalvleis.
Voeg broodkrummels by en meng.
Voeg res van die bestanddele behalwe die koolblare by en meng goed.
Vorm 6 frikkadelle en hou eenkant.
Plaas koolblare in ’n groot bak en gooi kookwater oor.
Maak seker blare is bedek met kookwater.
Laat staan vir sowat 5 minute totdat die blare sag is.
Haal uit en dreineer op kombuispapier.
Sny die harde stronkgedeelte uit die koolblare.
Plaas ’n frikkadel in die middel van ’n koolblaar en maak soos ’n pakkie toe.
Plaas frikkadelle in ’n oondbak, toegevoude deel na onder.
Gooi 125 ml kookwater in die oondbak en maak bak toe met tinfoelie.
Sit in oond vir 1 uur.
Van die water en sous sal uitkook.
Haal uit en skep frikkadelle op ’n opdienbord.
Sit voor saam met tuisgemaakte tamatiesous en kapokaartappels.

Resep 3:
Bestanddele
1 groot kopkool
2 groot uie, fyngekap
Kookolie
2 koppies water
Suiker, sout en peper na smaak
½ teelepel fyn neutmuskaat
Frikkadelle
500 g gemaalde beesvleis
4 snye dag-oud brood in melk geweek; melk uitgedruk
¼ teelepel fyngemaalde naeltjies
¼ teelepel fyngemaalde wonderpeper
2 teelepels fyngemaalde koljander
1 eier
1 teelepel elk sout en peper of na smaak.
2 knoffelhuisies, fyngekap (opsioneel, alhowel ek beveel dit aan)
1 klein ui, fyngekap

Metode
◦Sny die middelste harde gedeeltes uit die blare en stoom dit vir 5 – 10 minute tot sag, maar nie pap nie.
◦Meng die frikkaddelbestanddele alles saam in ’n mengbak en vorm klein frikkadelletjies. (Nota: Ek het dit in lang sigaarvorms gerol, alhoewel dit nie tradisioneel is nie)
◦Draai elke frikkaddel styf toe in ’n koolblaar. Gebruik ’n tandestokkie of gare om dit vas te maak.
◦Braai die uie tot goudbruin in ‘n kastrol in ’n bietjie olie.
◦Pak die koolpakkies styf teenmekaar in dieselfde kastrol. Voeg die water by en voeg die suiker, sout en peper na smaak by.
◦Prut stadig vir 20 minute, maak seker dat die water heeltyd die koolpakkies halfpad bedek.
◦Sprinkel neutmuskaat oor en prut vir nog 10 – 15 minute.