Friday 16 May 2014

SWARTWOUD KOEK




SWARTWOUD KOEK
Die Swartwoud-Koek of "Black Forest Cake" is baie gewild met sy vulsel van kersies, Kirch, room en sjokolade. Ons begin met 'n basiese sjokoladekoek - hierdie oeroue resep is afkomstig van 'n boekie wat my ma donkiejare gelede by iemand gekry het - My Gunsteling Tuisnywerheidresepte, of so iets. 'n Tannie wat vir 'n tuisnywerheid gebak het, het al haar gunsteling resepte gaan tik en in boekvorm laat bind om vir die nageslag te bewaar.
Ek is dankbaar sy het - ...hierdie is een van my staatmaker sjokoladekoek-resepte.
5 ekstra groot eiers
310 ml suiker
200 ml water
200 ml olie
500 ml koekmeelblom
50 ml kakao
2 ml sout
5 ml koffiepoeier
20 ml bakpoeier

Voorverhit die oond tot 190 grade. Spuit twee 24cm-laagkoekpanne liggies met Spray & Cook. Skei die eiers. Klits die eiergele, suiker, water en olie saam vir 5 minute. Sif die koekmeelblom, kakao, sout en koffiepoeier oor die mengsel en klits weer vir 'n verdere 3 minute. Vou die bakpoeier hierby in. Klits die eierwitte styf en vou dit by die beslag in. Verdeel die beslag tussen die twee koekpanne en bak die koek vir 30 minute.
Wanneer die koek uit die oond kom, maak die kante los en laat dit in die panne koud word voor dit uitgekeer word.
Nou begin ons met die Swartwoud-gedeelte van die koek.Jy het nodig:
250 ml room, styfgeklits
400g-blikkie ingemaakte swart kersies (black cherries - ek gebruik Mayfair s'n)
Kirch (kersie-likeur)
En vir die ganache:
100 g sjokolade
125 ml room
30 ml botter, in stukkies gesny
Sny elke koeklaag in twee, dws jy gaan vier koeklae hê. Dreineer die kersies goed en sny dit in stukkies. Roer dit by die room in. Jy kan ook 'n bietjie van die Kirsch by die room inmeng, indien verkies.
Plaas die koeklae langs mekaar op 'n stuk waspapier op die kombuis toonbank. Gooi 'n bietjie Kirch in 'n maatkoppie en sprinkel van die Kirsch bo-op elke koeklaag. (Ek het altyd Kirch in 'n spuitbottel gehad toe ek vir die tuisnywerheid gebak het - dit maak dit baie makliker.)
Verdeel nou die room in drie dele en skep dit op drie van die koeklae. Smeer mooi gelyk en plaas die koeklae op mekaar - eindig met die koeklaag sonder enige room.
Maak die ganache deur die sjokolade, room en botter oor lae hitte te smelt. Roer tot glad. Laat die effens afkoel en gooi dit bo-op die koek. Smeer die ganache na die kante toe sodat dit effens teen die kante van die koek afloop.
Versier die koek met groot sjokoladekrulle, gekrummelde Flake, ekstra styfgeklitste room of selfs marachino-kersies met hul stingeltjies aan.
Verkoel die koek in die yskas as dit nie dadelik geëet gaan word nie.
(Marina Engelbrect at Af 'n Plaas)