Thursday 29 May 2014

Annatjie se WildsvleisPastei




Annatjie se WildsvleisPastei
Jy benodig:
VIR DIE VULSEL:
1 groot ui, gekap...
sonneblomolie
500 g lamskenkels
1,5 kg wildsvleis (skenkels, nek of blad)

omtrent 750 ml hoenderaftreksel, genoeg om die vleis te bedek (ek maak my eie, maar jy kan blokkies of poeier gebruik)
omtrent 3 eetlepels varsgemaalde koljander, gerooster
omtrent 1 teelepel wonderpeper en/of naeltjies (mits jy daarvan hou)
1 teelepel witpeper
3 teelepels sout
bruinasyn na smaak (3-4 eetlepels)
2 eetlepels koekmeel, met ’n bietjie water gemeng tot ’n pasta
VIR DIE SODAWATER-PASTEIDEEG:
500 ml koekmeel
2,5 ml sout
250 g koue botter, in blokkies gesny
100 ml yskoue sodawater
20 ml Brandewyn
Só maak jy:
MAAK DIE VULSEL:
’n Bietjie kleur:
Gebruik ’n swaarboomkastrol en braai die ui in warm olie tot deurskynend. Skep die ui uit en braai dan die lamskenkels tot mooi bruin. Gooi nog olie of vet by, indien nodig. Skep die skenkels uit’n gaatjieslepel met en braai dan die wildsvleis bruin. Skep dit ook uit.
Kook is koning:
Gooi die res van die bestanddele (behalwe die meelpasta) in die pot en verhit dit totdat dit begin kook. Skep die bruingebraaide vleis en ui terug in die pot. Sit ’n styfpassende deksel op en laat dit stadig prut totdat die vleis sag is en van die bene begin afval. (Dit sal 2½-3 uur vat.)
Beenaf:
Skep die bene uit en verdik die vleismengsel met die meelpasta.
Net nie laf raak nie:
Proe en gooi nog sout of peper by, indien nodig. Skep die vleis in ’n groot pasteibak en laat dit eenkant staan om heeltemal af te koel.
Deegduvet:
Bedek die vleis met ’n laag pasteideeg, verf dit met geklitste eier en bak dit vir ongeveer 45 minute in ’n voorverhitte oond (220°C) of totdat die kors goudbruin en gaar is.
MAAK DIE SKILFERKORS:
Sneeustorm:
Sif die meel en sout saam.
Vingerwerk:
Gooi die botterblokkies by en vryf dit met jou vingers by die meel in totdat die mengsel soos broodkrummels lyk.
Gee gas:
Gooi die sodawater en brandwyn by en meng dit tot ’n stywe deeg.
Skink solank ’n doppie. Bedek die deeg met kleefplastiek en laat dit vir ’n uur in die yskas rus.
Pomp jou spiere. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak in ’n reghoek uit. Vou die reghoek in drie lae oor mekaar en draai die gevoude reghoekie dwars voor jou. Herhaal die rol-en-vouproses nog twee keer. Bedek die deeg en laat dit vir nog 20 minute in die yskas rus. Herhaal nou die vouery nog drie keer.
Uiteindelik! Rol die deeg uit tot ’n dikte van 3 mm en bedek die pasteivulsel daarmee.
Annatjie sê: Sit die wildsvleispastei voor saam met rys en ietsie soets soos kweperskywe en groenertjies.
DEUR ANNATJIE REYNOLDS