Thursday 20 March 2014

Vurige James Small-hoendervlerkies




Vurige James Small-hoendervlerkies

Opgedra aan die speler wat so vinnig soos ’n koeël kon hardloop en wie se humeur so witwarm was soos ’n rissie.
...
Jy het nodig:
1,2kg hoendervlerkies
1ml peri-peri
5ml sout
5ml peper

55ml sonneblomolie
150ml mielieblom (Maizena)

Om voor te sit:
4 wortels, in stokkies gesny
4 selderystokkies, in kleiner stokkies gesny

Vir die pikante vlerkiesousie:
30ml botter, gesmelt
2ml knoffelpoeier (of 2ml vars knoffel, baie fyngekap)
100ml goeie brandsous
60ml heuning
die fyngerasperde skil van ’n halwe lemoen
1 rooirissie, fyngekap
Sout en peper, na smaak

Vir die bloukaas-doopsous:
125ml bloukaas van jou keuse
10ml suurlemoensap
100ml suurroom
80ml mayonnaise
Sout en peper na smaak

Só maak ’n mens
1. Voorverhit die oond tot 200°C.
2. Sny die vlerkies mooi netjies en verwyder die punte van die vlerkies (moenie dit net eenvoudig weggooi nie, jy kan dit gebruik om fantastiese tuisgemaakte hoenderaftreksel te maak. Vries die vlerkpunte as jy dit nie dadelik gaan gebruik nie).
3. Plaas die vlerkies in ’n groot bak en gooi die sout, peper, peri-peri en 25ml van die olie oor. Meng deeglik sodat die geurmiddels die vlerkies behoorlik bedek.
4. Plaas die vlerkies in ’n skoon plastieksakkie en sprinkel die mielieblom oor die vlerkies. Maak die sakkie toe en skud deeglik sodat die mielieblom die vlerkies kan bedek.
5. Bespuit ’n bakplaat deeglik met kleefwerende kossproei of smeer met olie. Plaas die vlerkies op die bakplaat en sprinkel die laaste 30ml olie oor.
6. Bak die vlerkies op die boonste oondrak vir 30 minute (draai halfpad deur kooktydperk om).
7. Sodra dit gaar is, verwyder van die bakplaat en plaas die warm vlerkies in ’n groot, skoon bak (dit kan die bak wees waarin jy dit wil voorsit). Gooi sowat drie-kwart van die pikante vlerkiesousie oor die vlerkies en meng sodat die sousie die vlerkies behoorlik kan bedek.
8. Sit dadelik voor saam met die bloukaas-doopsous en die tradisionele wortel- en selderystokkies.

Die pikante vlerkiesousie:
1. Meng die botter, knoffel, heuning, sout, peper, rissies, lemoenskil en die helfte van die brandsous. Roer goed om deeglik te meng.
2. Proe die sous en voeg nog van die brandsous by na smaak.

Só maak jy die bloukaas-doopsous:
1. Meng die suurroom, suurlemoensap en geurmiddels in ’n bakkie. Roer die mayonnaise stadig by.
2. Krummel die bloukaas en roer dit ook by. Bedek en plaas in die yskas tot jy gereed is om dit voor te sit.