Thursday 20 March 2014

Mynhardt en Tiaan se Kinderkarnival



Makietie Kinderkarnival Daar is 'n paar dinge wat ons terugvoer na ons kleintyd: Die reuk van vars gesnyde gras op 'n Saterdag, koel swembadwater wat op jou vel in die son droog word, die deuntjie van die roomyskarretjie wat op die verkeerde tyd op 'n Sondagmiddag die straat afkom, ongemaklike skoolklere en lang kouse en baie swaar tasse.

Maar dan is daar ook die opgewondenheid van 'n partytjie! Ons kon nooit 'n oog toe maak die vorige aand nie en het al van vroeg af wakker gelê en wag vir die familie om vir jou in die bed te kom sing. Sagte vanilla koeke met helder versiersels op, die reuk van soet toffie apples wat aan alles bly kleef het en rooi en groen verjaardagkoeldrank wat al ons nuwe klere gevlek het.

Ons het vir hierdie makietie besluit om 20 kinders van ons naaste plaasskooltjie te nooi om te kom deel in hierdie herinneringe, hulle baie gelukkig te maak en vir hulle 'n kinderkarnival aan te bied soos nog nooit tevore met outydse sakresies en appels hap uit die water, spookasem en gevriesde suurlemoenkoeldrank. Hulle kon ook blykbaar nie slaap nie....

Toffie Appels
Voorbereiding: 15 minute

Maak jouself maar reg vir vuil taai hande en gesiggies...alles gaan eintlik taai wees.

-20 appels of klein blik appels op stokkies
-1kg wit suiker
-200ml water
-5ml kleursel van jou keuse

Smelt suiker en water in pan tot goudbruin, voeg kleursel by en dompel appels in dit tot dit goed bedek is. Jy kan ook vir varasie dit in neute doop.

Wees versigtig - hierdie lekkergoed is vir die kinders maar hulle moet ver weg wees as jy dit doen. Warm suiker brand seer!

Sherbet

-10 teelepels sitroensuur
-4 koppies versiersuiker
- 2 pakkies aanmaakjellie van jou keuse
-5 teelepels koeksoda

Meng alles saam en verpak in helder gekleurde papiersakkies met verskillende kleure stokkielekkers

IMG_2715 copy

Vanieljekoek met botterversiersel

Voorbereiding: 2 ure

Hierdie is die heerlikste en maklikste koek nog ooit! Kan ook baie vinnig in kolwyntjies verander. Ons hou daarvan!

Sit die oond op 180°C.

-8 eiers
-250g strooisuiker
-250g meel

Klits die eiers en die suiker saam tot baie lig en romerig en vou dan die gesifte meel by. Skep in gesmeerde losboompan en bak vir sowat 25 min tot deurgaar. Vir sjokolade koek vervang die meel met kakao.

Botterversiersel:

500g botter
1 kg versiersuiker, gesif
30ml kookwater
5 ml vanielje ekstrak
Verskillende voedselkleursel – ons gebruik geel, rooi, blou en groen.

Room die botter en 500g van die suiker saam to glad en romerig.
Voeg die ander 500g versiersuiker, kookwater en vanielje by en hou aan klop tot glad en romerig.
Kleur die versiersel soos jy verlang en versier voort!

Fondant versiersel – ons gebruik rooi, groen, blou en swart wat sommer klaar gekleur is.

Om die koek aanmekaar te slaan: versier die koek met botterversielsel en fondant vormpies van jou keuse. Die fondant rol gemaklik uit met versiersuiker – as dit dan dof word, verf die vormpies met 'n nat kwassie om die kleur weer helder te kry!

Gesoute Karamel Springmielies
Hierdie is super heerlik, baie maklik om te maak, koste effektief en die meeste gaan sekerlik in jou eie keel af beland - wees versigtig, want dit raak 'n gewoonte...

• Springmielies - sommer die hele pak klaar gespring!
• 2 koppies sagte bruin suiker
• 250g botter
• 1 blikkie kondensmelk
• 1 teelepel growwe seesout of na smaak

Plaas 'n swaarboompot op die stoof op matige hitte en kook die suiker en botter saam. Laat tot kookpunt kom en sit dan die kondensmelk en die sout by. Laat toe om saggies te kook vir 6 tot 8 minute totdat dit by die sagte bal stadium kom. Maak seker om dit nie te lank te kook nie! Gooi die karamel oor die springmielies en roer met 'n houtlepel deurmekaar. Raak kreatief en bedien in papierkoppies met helder linte of geverfde patrone. Die kinders kan al 'n dag voor die tyd inspring en help.

IMG_2696 copy

Jellie Wurm Koeldrank
Voorbereiding: 1 uur om te set

Hierdie koeldrank sorg vir vet pret! Die wurmpies kan al 'n dag voor die tyd gemaak word en in die yskas gebêre word. Raak kreatief met herwinde glasbottles en helderkleurige papierstrooitjies. Maak dit ook persoonlik deur die genooide gaste se name op te skryf.

• 4 liter helderkleurige koeldrank van jou keuse
• 10g agar agar

Meng die agar agar met een liter van die koeldrank en verhit vir 5 minute tot kookpunt. Suig op in groot spuit en spuit in lang pypie of strooitjies wat aan die onderkant toe gemaak word. Dit kan jy maklik by die apteek koop. Dompel hulle in yswater en wag tot die vloeistof stol. Blaas dit uit die strooitjies uit met dieslefde spuitnaald. Nou kan jy dit in die res van die yskoue koeldrank bedien word en die kinders ure se pret verskaf terwyl hulle die wurmpies probeer uit delwe.

*Mynhardt se dekor idees sal die partytjie selfs meer soos 'n karnival laat voel. Kliek hier vir sy idees.