Thursday 20 March 2014

Mynhardt en Tiaan se Teepartytjie

Makietie: Teepartytjie

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
'n ‘Teedrinkery’ was nog altyd 'n groot storie in ons huise. Ek onthou die seremonie rondom die hele proses en dit is sommer tot vier keer per dag herhaal, sommer net vir die lekkerte. Tafeltjies was oorgetrek met kant en ongebleikte linne, koppies uitgesit en die tee moes ook net op die regte manier gemaak word.

As ek nou daaraan terug dink was dit wonderlike tye om na uit te sien in die dag. Groot en belangrike kwessies is onder ons oumas en tannies bespreek en ons kon lekker lê en lag vir al die stories waar ons agter die bank gelê en wegkruip het. As daar meer belangriker gaste was soos die dominee se vrou dan moes ek agter die bank uit en 'n stukkie vir hulle op die klavier speel om saam met die koek en tee te geniet. Dan het my ouma omtrent geswel van die trots en is nog potte tee en versnaperings sommer bestel.

Ek sal nooit die reuk van haar 4711 ( wat sy in klein druppeltjies agter haar ore en in haar nek gesprinkel het nie) die reuk van tee wat stadig trek, gebakte koek en die reuk van tuin rose vergeet nie; dit het 'n mens omtrent na 'n droomwêreld toe weg gevoer en kort voor lank was die speel op en het die vaak ons kom haal in die middagsonnetjie agter daardie selfde bank. Die geklingel van die afgedekte koppies en pierings sou ons wakker maak en laat opspring om te sien wie eerste in die kombuis sou wees om al die lekker oorblyfsels vinnig op te eet voor ouma ons sien...

Kom geniet saam met ons 'n Makietie Teeparty met 'n heel nuwe teemussie aan!
 
Granadilla Merengue Lepels
        
Hierdie meringue is bietjie anders want in plaas van die normale suurlemoenweergawe, gebruik ek granadilla puree, want dit werk baie goed en smaak heerlik. Ek bedien dit ook in ’n klein lepeltjie en sodoende is dit net een happie en makliker om te eet.

Om die vulsel te maak het jy die volgende nodig:

• 7 eiergele
• 5 eetleples strooisuiker
• 125ml granandilla puree
• 250ml marcarpone

Klits die eiergele met die suiker oor ’n waterbad tot linte vorm. Roer die granandilla by en vou nou ook die mascarpone in. Sit in die yskas tot jy dit gaan gebruik sodat dit effe kan stol.

Om die meringue gedeelte te maak het jy die volgende nodig:

• 7 eierwitte
• 350g strooisuiker
• Bietjie water

-Gooi die suiker in ’n klein potjie en voeg bietjie water by sodat die suiker net bedek is.
-Verhit nou die stroop tot 120 grade en begin dan die eiers klits.
-Sodra die suikerstoop 135 grade bereik, kan jy die stoop stadig by die eirs begin gooi. Jy moet dit baie stadig byvoeg en ook op ’n hoë spoed klits sodat die spul nie skif nie. Klits nou tot die mengsel afgekoel het.
-Sit nou hierdie mengsel in spuitsakke. Al wat jy nou nog hoef te doen is om die granadillamengsel op ’n lepel te skep en dan die meringue bo op te spuit en met ’n blaasvlam by te kom. Die eier is klaar gaar so die blasvlam is net om kleur te gee.               
               
Ystervarkies met klapper en tee kors        
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Ystervarkies met klapper en tee kors
Hierdie resep is so maklik en dit vat nie eers so lank om te maak nie. Dit is nou ’n kinkel op die normale donker sjokolade ystervarkies of lamingtons soos wat meeste van ons dit ken.

Hier kan jy slim wees ek koek koop by die winkel maar hier is ook ’n maklike resep om dit sommer self te maak.

-8 heel eiers
-250g witsuiker
-250g koekmeelblom

Al wat jy doen is die eiers en die suiker saam klits tot jy ’n ligte mengsel kry wat linte vorm op die oppervlak as jy die klitser oplig. Nou vou jy net die meel met bietjie sout in die mengsel. Maak seker jy sif die meel baiE goed. Bak dit nou in ’n oondpan van jou keuse tot ’n stokkie skoon uitkom; dit neem nie veel langer as 20 minute nie. Sit nou die koek eenkant sodat dit goed kan afkoel.

Om die stroop te maak het jy die volgende nodig:

-400g sjokolade
-250 ml room
-50 ml water
-200g klapper
-50g gegeurde vrugte en rooibos teeblare

Rooster eers die klapper in ’n pan en gooi dan die tee by. Maak seker jy meng dit goed sodat die tee goed rooster maar maak seker dat dit nie brand nie.
Verhit nou die room en die water in ’n potjie en gooi dan die sjokolade by. Roer goed deur sodat die sjokolade kan smelt. Doop gesnyde stukkies koek deeglik, maar versigtig in die stroop en rol dit dan in die afgekoelde klapper mengsel sodat dit aan al die kante bedek is. Sit nou die koek blokkie eenkant om effe af te koel voordat jy dit op die opdien borde sit.               
               
Reënboog Toebroodjies         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Hierdie is een van daardie resepte wat ons onthou van toe ons nog baie jonk wat. Dit is altyd gemaak vir enige bymekaarkom geleentheid. Vulsels soos spek is gebruik wat met grondboontjie botter gemeng is, gekapte gekookde eier asook marmite.... Maar ons broodjie is baie anders en meer modern.

• 3 bakkies gewone roomkaas
• 1 houer baisilli kruid pesto
• 1 houer songedroogde tamatie pesto
• 1 houer olyf tapenade
• 1 witbrood gesny

Meng nou die geursels met die roomkaas afsonderlik sodat jy drie verskillende geure het. Pak die brood uit op ’n snybord en begin by ’n punt met die smeer. Nadat jy die eerste laag op gesit het, sit weer ’n sny brood en eindig ook met ’n sny brood. Sny nou die korsies af en sny die vierkant brood in 4 perfekte driehoeke. Sit die broodjies saam met die ander eetgoed op ’n bordjie.
 
Gerookde forel met krummels en kwartel eiers         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Gerookde forel met krummels en kwartel eiers
Hierdie resep is heerlik en eintlik baie maklik om aan mekaar te sit. Die smake is uniek en die kwartel eiers maak dit heel luuks!

• 1 hele forel, skubbe af en binnegoed uit
• 1 groot wok of roker met saagsels
• 250ml koekmeel
• 125ml botter
• 1 eetlepel groentee blare, fyngemaak
• Fyn gerasperde parmesaan kaas
• 18 kwartel eiers
• 125ml asyn

Maak eerste die kors deur die botter in die meel in te vryf en dan die tee asook die kaas deur dit te meng. Sit dit soos ’n groot koekie plat op ’n bakplaat wat gesmeer is en bak in ’n voorverhitte oond vir sowat 20 minute of tot gaar. Onthou die deeg sal nog bros raak soos dit afkoel. Laat dit afkoel as dit uit die oond kom en kap dit in krummels as dit afgekoel het. Hou eenkant.

Om die vis te rook is baie maklik - sit die saagsels aan die onderkant van die roker of wok en die vis bo-oor dit op ’n rakkie. Skakel die hitte aan en rook die vis vir sowat 20 minute of tot die vis vlok. Nou weet jy hy is gaar. Laat effe afkoel.
Sit solank ’n potjie met kookwater op die stoof wat stadig kook. Breek nou die kwartel eiers in ’n klein bakkie en gooi die asyn bo oor dit. Laat die eiers bietjie staan sodat die asyn sy werk kan doen en dompel dan die eiers in die kookwater. Roer liggies en gebruik ’n gaatjieslepel om die eiertjies na sowat 3 minute uit die water te skep in yskou water sodat die proses kan stop.
Bedien die drie komponente saam in ’n klein bakkie.                             
               
Tamatie sop met Malvalekkers         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Tamatie sop met Malvalekkers
Dis ’n vreemde kombinasie maar glo ons dit werk baie goed saam - as mense dit eers een keer probeer het gaan hule vra vir nog...

Vir die sop:
• 1 kg tamaties, gerooster met olyf olie, sout en peper

Dit is ’n makliker manier om sop te maak en jy kan dit insit en los. Die lekker ding is dat jy hierdie sop ook kan vries en dit later gebruik as pasta sous. Maklik! Al wat jy doen nadat jy die tamaties klaar gerooster het in die oond is om 'n bietjie vloeistof by tesit. Ek het in hierdie geval sommer water gebruik want die tamaties het ’n baie unieke geur waarvan ek nie ontslae wil raak nie. Verpulp dan net die mengsel. As jy wil kan jy dit deur ’n sif gooi maar ek het nie gevoel dit is nodig nie, want ek hou baie van die tekstuur.

Nou vir die Malvalekkers

• 500g strooisuiker
• 200ml water
• 1 eetlepel glukose
• 20g gelatien,  spons met 200ml koue water
• 2 eier witte
• 2 eetlepels appelkoos tee, fyn gekap aper tot ’n poeier

Maak eerste ’n suikerstroop met die suiker, water, glukose tot alles gesmelt het. voeg nou die gelatien by en sit dan die eierwitte in jou klitser. begin klits tot sagtepunt stadium en voeg nou die suikerstroop stelselmatig by in ’n klein stroompie, klits nou hierdie mengsel tot dit afgekoel en stewig is. Jy kan nou die teepoeier hierby vou. Gebruik ’n oondbak en spuit dit met bietjie kleefwerende sproei. Sit 1 eetlepel milieblom in die bak en skud dit rond sodat die hele bodem en kant bedek is. skep nou die mengsel in die bak en smeer dit goed plat. Jy kan dit nou laat set in die yskas. Na sowat ’n uur sal jy dit kan uitdop en dit sny. Bedien die malvalekker in die sop.