Thursday 20 March 2014

Mynhardt en Tiaan se Italiaanse Valentyns Makietie

Italiaanse Valentyns Makietie

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Ons het gedink en weer gedink oor hoe om 'n nuwe baadjie vir hierdie lekker dag aan te trek sonder om in die allerdaagse te verval. Alles is mos rooi en toegegooi onder harte. Ons verbeedlingsreis neem ons na 'n straatkafeetjie iewers in Italië. Die son is besig om te sak, die rooi en wit tafeldoeke word oopgegooi oor die klein tafeltjies, die reuk van die dag se gekook van vars brood en pasta hang swaar in die lug en die wyn word in groot emmers op ys gesit en die kerse word aangesteek.

'n Paartjie kom om die hoek gestap en word verras deur die toneel in die klein stegie. Daar word vir hulle plek reggemaak om te sit en die eienaar verduidelik luidkeels die hele spyskaart wat hulle net so moet eet, geen keuses hier nie... Die son sak al verder en die koue vonkelwyn vloei heerlik in hulle kele af. 'n Trekklavier word gesleep en lig elke happie tuisgemaakte tapas, pizza en verruklike pasta tot op nuwe hoogtes en
voer hulle tot diep in die ou nag in.

As hulle opstaan skuif daar 'n vol maan oor die toppe van die geboue en hoë kattedrale . “When the moon hits your eye like a big pizza pie it’s amore...” sing die trek klavier speler in Italiaans soos hulle weer om die hoek hand-aan-hand verdwyn met die gasstraatlampe wat aangesteek word en 'n ligpad voor hulle uit maak.

Klink heerlik nê? Kom saam met ons na ons Italiaanse Makietie straat Kafee.
 
Tuisgemaakte pizza met vars bestanddele
        
Hierdie is heerlik vinnig om te maak en jy kan eintlik enige van jou gunsteling bestanddele daarop sit. 'n Lekker kinkel manier om dit voor te berei is om die indivuele pizzabasisse in 'n kleefwerende pan op die stoof gaar te maak. Dan kry dit die mooiste kleur en lyk kompleet of dit uit 'n houtvuur oond kom. Hierdie pizza word nie in die oond weer gebak nie en is 'n vars benadering tot 'n ou konsep.

Wenk: As jy genoeg panne het bedien die pizza sommer in die pan of op 'n houtbord of broodbord om dit ekstra rustieke voorkoms te gee. Moet glad nie skaam wees met die vars kruie en olyfolie vir garnering nie en mors maar so 'n bietjie oor die kante en rante.

• 1kg gewone witbrood deeg
• Ekstra meel vir uitrol
• 200g klein kersie tamaties
• 100g ontpitte groen olywe
• 1 pakkie bros gebraaide spek
• 1 potjie vars basillie kruid pesto
• olyfolie vir braai
• Paar takkies tiemie en roosmaryn
• Gemengde kruie vir bo op
• balsamiese asyn na smaak

-Rol die deeg baie dun uit met ’n roller, pasta masjien of wynbottel. Bak in ’n voorverhitte oond tot gaar, dit neem sowat 10 minute. Haal uit en laat afkoel.
-Braai die tamaties in genoeg olyfolie saam met die tiemie en olyfolie. Geur met sout en peper. Voeg nou bietjie balsamiese asyn by en laat effe afkoel in die pan.
-Rangskik nou die res van die bestanddele op die klaar gebakte pizzabasis en sit die kruie bo op. Nou is jy reg om te bedien!

Nog 'n paar idees met lekker kombinasies:
• Vars druiwe met ricotta of bloukaas en neute
• Gerookte varkribbetjie vleis met suurlemoen en roketblare
• Geurige salami met groen pampoentjies, basilie en tamatieTuisgemaakde pasta met tamatie sous en vleisfrikadelle

Tuisgemaakte pasta met tamatie en frikkadelsous         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Daar is in die lewe nie iets meer terapeuties as om pasta self te maak nie. Dit is so eenvoudig en elkeen kan dit self doen. Dit is nog meer romanties om die proses saam met iemand aan te pak. Hierdie is 'n standaard resep wat beproef en onfeilbaar is. 'n Bonus is as jy jou eie hoendereiers kan gebruik en gee gewoonlik die mooiste diep geel kleur aan die pasta. Hier maak ons lekker growwe stukke pasta wat amper soos lasagne lyk en bydra tot die mooi handgemaakte voorkoms. Hoe growwer hoe beter!

Wenk: Wees rustig en gebruik jou tyd. 'n Goeie glas rooiwyn pas ook nou goed in die prentjie en plaas jou dadelik in die regte Italiaanse luim...

Hierdie is 'n tipiese Bolognese vleissous maar met 'n lekker kortpad kinkel. Ons gebruik worsvleis wat al klaar gegeur is. Gebruik jou gunsteling boere wors of worsresep vir hierdie sous. Vir die wis en die onwis sit ons sommer 'n lekker worsresep by vir dié wat tyd het om dit nog self te doen. Tuisgemaakte wors maak natuurlik die wêreldse verskil.

Pasta
• 200g koekmeelblom
• 2 medium eiers
• knippie sout

Om die pasta te maak, verwerk die eiers, meel en sout in ’n voedselverwerker tot krummels vorm. Druk bymekaar om 'n deeg te vorm en laat effe rus tot jy reg is om dit uit te rol.

• 1kg ryp rosa tamaties
• 2 rooi uie, gekap
• sout en peper na smaak
• 2 ansjovisfilette per persoon
• hand vol ontpitte swart olywe
• 1 rissie met pitte, opgekap
• Basilliekruid
• Soyasous na smaak
• 1 kg beeswors
• Parmesaan kaas vir opdieninig

-Braai die uie in bietjie olie en geur met sout en peper. Voeg nou die tamaties by en kook tot 'n lekker sous vorm. Proe nou hieraan - jy sal dalk bietjie suiker moet byvoeg as jou tamaties nie soet genoeg is nie.
-Gooi die rissie, olywe en antjovis by en kook af tot lekker 'n sous vorm. Geur met bietjie soyasous.
-Trek die wors uit die vel en maak balletjies daarmee. Braai in ’n pan met lekker warm olie in tot net afgeseël.
-Voeg dit nou by die tamatiesous en kook tot die vleis net gaar is.
-Rol die pasta uit en sny in papadelle. Kook tot gaar en dreineer. Sit dit binne in die sous en roer deur, maar nie te veel dat die pasta breek nie.
-Breek nou stukkies basillie kruid oor sowel as parmesaan kaasskerwe.

Die Lekkerste Boerewors Resep van Henriëtte Wessels
Die maak van jou eie boerwors is 'n tradisie wat hierdie land aanmekaar gesoom hou. Henriëtte Wessels het hierdie resep geplaas en is voorwaar heerlik. Speel rond met verskillende soorte asyn en pas die speserye aan soos jy wil. Maak ook gebruik van interessante soorte gerookte spek vir 'n lekker kinkel.

• 2kg Beesvleis
• 1kg Varkvleis
• 20g (50ml) Koljander
• 2ml Fyn naeltjies
• 2ml gerasperde Neutmuskaat
• 30g (25ml) fyn sout
• 5ml Varsgemaalde Swartpeper
• 500g Spek
• 100ml Asyn
• sowat 90g Derms

-Berei eers die koljander deur dit te skroei, te maal en te sif.
-Sny vleis in 50mm blokke en meng met die speserye en geurmiddels.
-Maal die vleis en sny spek in blokkies
-Voeg spek en asyn by maalvleis en meng liggies maar deeglik
-Stop derms lossies met die mengsel
-Lewer sowat 3.5kg


  Koffie gegeurde sjokolade Tiramisu
Hier kinkel ons nou die nagereg onderste bo! Ons haal alles uit mekaar en sit dit weer terug met al die bekende smake en geure. Dit is so maklik om te maak en is 'n wenner as 'n nagereg en sal al jou gaste beïndruk. Dit kan al definitief 'n dag voor die tyd gemaak word om onnodige rond hardlopery te voorkom - maak net seker daar is genoeg vir ingeval iemand in die nag opstaan en dit ontdek....

6 eiergele
3 eetl suiker
450g mascarpone
1 1/2 koppies espresso koffie
2eelt donker rum
24 vingerkoekies
1/2 koppie donker sjokolade vir opdiening

-Klits die eier en suiker tot lig en romerig. Voeg die mascarpone by en klits tot glad.
-Voeg nou bietjie van die espresso by en roer goed deur. Meng nou die oorblywende espresso en die rum in ’n bak, doop die koekies daarin en pak in ’n bak van jou keuse.
-Giet nou die mascarponemengsel bo-oor en pak nog beskuitjies. Giet nou nog mengsel oor. Hierdie moet nou in die yskas gaan vir minimum 2 ure maar is beter as dit oornag staan. Jy kan net voor opdiening sjokolade en kakoa oor sprinkel.
-Bedien saam met lekker swart koffie, rum of brandewyn.


Sjokolade salami         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Hierdie sjokolade salamis is doodeenvoudig om te maak en kan voor die tyd berei word en maak die wonderlikste geskenke. Dit kan ook lekker in die yskas hou en kan uitgehaal word vir daardie ou TV-fliek oomblikke.

*Halwe koppie fyngemaakte amandels
*Halwe koppie gekapte okkerneute
*Een koppie grof gekapte Biscotti
*6 eetlepels botter
*¼ koppie sterk koffie
*500g goeie sjokolade
*Een telepel lemoenskil, gerasper
*Halwe koppie versiersuiker vir die rol van die salamis

-Smelt die sjokolade en die botter saam in 'n dubbelkoker oor matige hitte. Wees versigtig vir te warm aangesien die sjokolade maklik kan versuiker.
-Roer goed en voeg die koffie by. Haal van die hitte af en voeg die res van die bestandele behalwe die versiersuiker by. Roer goed deur en gooi uit op 'n bakplaat met waspapier en laat rus in die yskas vir sowat 'n halfuur tot net-net geset.
-Haal uit en verdeel die mengsel in tien. Rol salami-vormige worsies met jou hande en rol in die versiersuiker. Draai toe in waspapier en hou in die yskas.