Thursday 20 March 2014

Mynhardt en Tiaan se Manne-aand

Makietie: Manne-aand




 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
As die manne bymekaar kom beteken dit net een ding: Makietie! Ons het vir hierdie hoofstuk gedink waarheen ons hulle kan neem. Las Vegas is 'n bietjie ver en buite ons begroting so ons bring die casino na hulle toe. Speelkaarte word op innoverende maniere gebruik, Black Jack tafels gemaak en ons eetkamer word omskep in iets waarin James Bond in Casino Royale baie gemaklik sou gevoel het.

Ons kuier ook in Wellington en spoor vir Rodger op wat tuisgemaakte Absinthe en Gin vervaardig. Om die manne se kele nat te hou word daar vir ons gewys hoe om 'n Martini op die regte manier te maak en vertel hy ons van Ernest Heminway se “Death in the afternoon” n drankie wat hy in Parys berug gemaak het.

Ons neem kos inspirasie uit ou hotelsmake soos ons dit onthou en kook heerlik met allerhande verskillende drank wat ons aan die brand steek en een ding is seker: dit gaan warm raak! Nou wonder ons net of dit die kos of die manne gaan wees?

*Mynhardt se dekor-idees.


Dobbeldrankies
Die twee drankies is deur Rodger aan ons verduidelik en is heel maklik en eenvoudig om te maak. Die oorspronklike manier van Martini drink is natuurlik met Gin en hoe minder gekompliseerd en beter die bestandele hoe lekkkerder die drankie!

Gin Martini
-Goeie kwaliteit ekstra droe Vermouth
-Goeie kwaliteit Gin
-Kelkiemenger
-Ys
-Martini-glas

Maak die martini glas vol ys en laat vir 'n paar minute staan om die glas yskoud te maak. In die tussentyd, gooi 'n paar blokkies ys in die menger met twee skeute Gin. Skud liggies sodat die Gin net koud word maar geen van die ys afbreek nie. Gooi nou die ys uit die glas en gooi n halwe skeut Vermouth in die glas. Swaai die Vermouth in die rondte en gooi weer uit. Die Vermouth is net om die glas te geur. Gooi nou die yskoue Gin in die glas en geniet. Dit kan gegarneer word met olywe of suurlemoenskil maar Todger se Gin is so heerlik en geurig dat ons nie daaraan wil peuter nie!

“Death in the Afternoon”
Ernest Hemingway het klaarblyklik 'n hele paar van hierdie nodig gehad voor die kreatiewe instinkte ingeskop het. Die prentjie van 'n Paryse Kafee met hierdie drankies klink baie aanloklik maar wees versigtig - dit is baie sterk!

-Yskoue vonkelwyn, verkieslik 'n goeie Cap Classique
-Absinthe
-Vonkelwynglas

Gooi 'n halwe skeut Absinthe onder in die glas. Hou die glas skuins en maak vol met die yskoue vonkelwyn. Die vloeistof sal 'n pragtige smarag
groen kleur word. Drink stadig...

Spyskaart:
 
Black Jack Tafel Voorgereg         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Die voorgereg bestaan uit vyf elemente en boots die dobbel chips na. Die kleure is helder en die kombinasies interessant en word in die vorm van tapas bedien.

Avo Ritz
Voorbereidings tyd 20 min

-500g garnale uit die dop en skoon gemaak
-1 eetlepel olyfolie
-1 huisie knoffel fyn gekap
-1 rooi rissie fyn gekap
-Skil van 'n halwe suurlemoen
-1 skeut gin
-Halwe hand vol gekapte grasuie
-1 halwe ui baie fyn gekap
-Sout en peper

1. Plaas 'n lekker groot braai pan op die stoof en maak lekker warm.
2. Gooi die olie in. Braai die garnale vinnig vir 1 minuut en gooi die suurlemoenskil, rissie en knoffel by. Gooi die garnale om deur die pan vorentoe te gooi en weer vinnig terug te trek. Gooi die Gin bo oor en laat toe dat die gasvlam die konkoksie aan die brand steek.
3. Flambee tot die vlamme uitgebrand is en verwyder dadelik van die stoof. Wees versigtig om die garnale nie te gaar en droog te laat kook nie. 4. Die hele proses is 'n vinnige een.
5. Wanneer die garnale koud is, meng dit met die fyngemaakte avokadopeer, gekapte grasuie en ui. Druk die sap van die suurlemoen bo-oor die mengsel om te verhoed dat dit bruin verkleur.
6. Skep in bakkies en garneer met kaviaar.

Gazpacho
Voorbereiding: 10 minute

-500g Rosa Tamaties
-'n halwe komkommer met saadjies uitgehaal
-1 groen soetrissie
-1 geel soetrissie
-1 huisie knoffel gerasper
-50ml rooiwyn asyn
-1/5 rooi ui fyn gekap
-Olyfolie
-Growwe sout en peper

Sny die tamaties lekker fyn op. Sny die komkommer en soetrissies in klein blokkies op. Voeg nou al die bestandele saam in 'n mengbak en geur met olyfolie en sout en peper. Laat in die yskas om lekker koud te word.

Hoender Kebabs
Voorbereiding: 10 min aanmekaar sit, 45 min marineer en 10 minute vir braai.

-5 hoender borsies ontbeen sonder die vel en in blokkies gesny
-Sap en skil van twee suurlemoene
-1 eetlepel gekapte roosmaryn
-1 eetlepel gekapte tiemie
-1 teelepel gekapte mint
-3 huisies knoffel fyn gersper
-Olyfolie
-Sout en peper

1. Gooi alles saam in n mengbak en plaas in die yskas om te rus en marineer vir 45 minute. Steek die die vleis op die stokkies en braai in lekker
warm olie tot gaar en mooi bruin.
2. Haal uit en gooi die marinade sous in die pan en kook weg tot 'n derde.
3. Gooi die afgekookte marinade weer oor die hoender en laat afkoel.

Gekrummelde Sampioene
Voorbereiding: 20 min

-500g wit sampioene met n klam lappie afgevryf
-4 snye geroosterde bruinbrood, fyn gekap in 'n voedselverwerker
-1 koppie fyn gerasperde parmesaan kaas
-4 eiers geklits
-100g mielieblom
-Olie vir diep braai

1. Maak twee mengbakke - een met die mielieblom en die ander met die broodkrummels en parmesaan gemeng.
2. Dompel al die sampioene in die eier en haal uit. Gooi in 'n bak met die mielieblom en maak seker dit is lekker bedek.
3. Gooi weer terug in die eiermengsel en dan in die krummelmengsel. Maak seker dit is goed bedek. Braai in lekker warm olie tot bruin. Haal uit en dreineer. Doen hierdie net voor opdiening.

Gebraaide perske en biltong slaai
Voorbereiding: 10 min

-500g lekker klam vetterige biltong
-5 kaalgat perskes, kleineres as jy kan
-Halwe koppie gekrummelde blou kaas
-Basiliekruid blare rooi en groen
-Olyfolie
-Sout en peper

1. Sny die perske van die pit af in die helfte.
Braai op 'n riffelpan met 'n bietjie olie om mooi swart strepe te maak. Bedien met die klam biltong, bloukaas krummels, sout en peper en 'n skeut olyfolie.
 
        Gepeperde Fillet (Fillet au Poivre)         
Gepeperde Fillet (Fillet au Poivre)

Voorbereiding: 30 min
Oond: 200 grade

Hierdie is regtig die lekkerste manier om fillet voor te berei. Dit is oortrek van die swart peper en het baie sous om oor die vleisie te gooi. Daar is niks erger as restaurante wat sulke klein bakkies aangemaakte souse by vleis bedien nie! Kom ons wys hulle hoe.

-10 x 250g goeie kwaliteit fillets
-Olyfolie genoeg
-100g grof gekapte swart peper
-100g botter
-5 skeute goeie kwaliteit brandewyn
-1.5 liter room

1. Smeer die fillets met olyfolie in en maak seker hulle is kamertemperatuur voor jy dit begin braai. Rol mildelik in die swart peper en braai vyf op 'n slag, drie minute aan 'n kant in 'n lekker warm pan totdat die vleis goed geseël is met 'n mooi donker bruin kleur.
2. Gooi die brandewyn bo-oor en tilt die pan sodat die gas die alkohol aan die brand kan steek. Flambee totdat al die vlamme weg is en haal dadelik uit om te rus. Doen dieselfde met die volgende vyf.
3. Gooi vinnig die room in die pan en laat toe om op matige hitte te begin borrel. Kook omtrent die helfde van die sous weg totdat dit lekker dik en romerig is. Geur met sout.
4. Net voor bediening plaas die vleis in die warm oond en maak deur warm maar moet nie verder kook nie. Omtrent 3 tot 5 minute.

Dobbelsteen Aartappels
Die resep is vreeslik eenvoudig maar almal kom lek altyd die pan uit na die tyd en dit is altyd 'n wenner.

-1.5kg Aartappels geskil en in dobbelsteenbokkies gesny
-1 eetlepel olyfolie
-1 eetlepel botter
-50g grof gekapte koljander
-3 huisies knoffel
-1 teelepel paprika
-1 teelepel gekapte vars origanum of droog
-Sout en peper

1. Gooi die aartappels in 'n warm pot kookwater en kook liggies vir omtrent vyf minute.
2. Haal uit en sit op 'n afdrooglap en maak seker dit is goed droog.
3. Gooi die olyfolie en botter in 'n warm pan en braai die aartappels totdat hulle begin verkleur. Gooi dan die res van die bestanddele by en braai
totdat die aartappels gekarameliseerd is.
4. Bedien die gereg deur die dobbelsteen aartappels in die bord te skep met die vleis bo-op en genoeg sous om die hele storie bymekaar te bring.

*Tiaan gaan niks hiervan hou nie maar garneer met vars basiliekruid blare!          
 
Pimms en Lemonade Jellies met vars bessies en komkommer         
Pimms en Lemonade Jellies met vars bessies en komkommer
Die resep kan al 'n dag voor die tyd gemaak word. Dis heerlik vars na al die swaar romerige kosse en het nog so 'n laaste bietjie skop in.

Voorbereiding: 20 minute en stol in die yskas vir 4 ure

-1 bottel Pimm’s No1 Cup
-1.5 liter lemonade
-15 blare gelatien
-200g vars blou bessies
-200g vars aarbeie in die helfte gesny
-200g vars moerbeie
-1 komkommer geskil saadjies verwyder en in blokkies gesny hou die skil
-Handvol mint

1. Maak die gelatien sag in die Pimms deur dit stadig en saggies te verhit tot opgelos.
2. Roer die lemonade stadig by en pasop om dit te veel te laat skuim.
3. In 'n oondpan pak al die bessies en komkommer eweredig uit met n paar van die mintblare tussen in en bedek met die vloeistof. Plaas in die yskas en laat dit stol.
4. Gebruik die skil van die komkommer en sny in lang dun repies.
5. Marineer in die yskas met Pimms bo-oor.
6. Sny die jellie in blokkies en bedien in martini glase en garneer met die komkommerskil en nog vars mint.