Thursday 20 March 2014

Mynhardt en Tiaan se Fees van kleur

Makietie: Fees van Kleur

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
In Indië word hierdie fees elke lente gevier. Mense kom bymekaar van heinde en verre en dan word daar musiek gemaak, gedans en gooi hulle mekaar met die mooiste, helderste kleure poeierpigment wat 'n ontploffing van reënboogkleure veroorsaak. Die gebruik is om hernuwing te vier en die nuwe jaar in te lei.

Ons het gedink dit is die wonderlikste konsep om vir Makietie te gebruik omdat dit alles insluit wat ons van hou: fees, kleur, mense en kos. Die gebruik van kleur in die kos, in die musiek en die dekor voer n mens weg na 'n ander wereld en lig die siel tot op n hoër vlak.

As jy hierdie fees wil aandurf, maak seker jy doen dit iewers waar dit maklik is om te beheer en skoon te maak aangesien die geesdrif met kleur en verf heeltemal oorneem. Ons trek ook n vernuwende baadjie aan met die kleure van die kos en doen wonderlike, moderne simplistiese dekor.

Kom verf jouself heeltemal pienk en pers en maak die bure groen van jaloesie!
 
 
Slaai en allerhande groenighede
        
GroenOns sit die koel terug in slaai! Ons sit voor al die verskillende skakerings van groen groente en blare en sit n slaai aan mekaar soos nog nooit tevore. Hier is taamlik baie komponente en elkeen is baie spesiaal op sy eie en saam maak dit die wonderlikste geheel.

Komponente Groen:
• Donker en ligte groen Gem blare
• Vars gepiekelde komkommer linte
• Spinasie brood croutons
• Gebraaide murgpanpoentjies
• Koljander en pietjersielie slaaisous
• Gebraaide kerrie blare

Blare:
Was en spin droog soveel blare soos wat jy gaan nodig hê. Een klein kop per persoon werk goed. Jy kan bietjie sout in die water sit wanneer jy dit was.

Komkommer:
Skil linte af van een komkommer en sit in ’n bak. Maak ’n piekel sous met 250 ml witwynasyn en 4 eetlepels suiker. Voeg ook by een teelepel komyn sade en een eetlepel heelkorrel mosterd. Gooi dit bo oor die komkommer en laat staan vir sowat 15 minute voor jy dit gebruik.

Spinasie brood croutons:
Gebruik ’n basiese brood resep en gebruik spinasie pureë om die brood groen te laat vertoon. Bak die brood die dag voor die tyd sodat dit lekker broodblokkies kan maak. Sny die brood in klein blokkie en braai in ’n pan met botter en olie tot bros. Laat effe afkoel voordat jy dit in die slaai gooi anders gaan dit die blare verwelk.

Murgpanpoentjies
Sny wiele van sowat 250g murgpanpoentjies en braai dit op ’n groefpan tot gaar, jy hoef nie olie met hierdie proses te gebruik nie. Dit vat sowat 10 minute om te braai. Omtrent so vyf minute per kant. Geur met sout en peper sodra jy dit uit die pan haal en hou eenkant soos die broodblokkies voor jy dit op die slaai gooi.

Groen slaaisous
Gebruik twee groot hande vol blare en verwerk dit met 250 ml sonneblomolie en 125ml asyn en geur met sout en peper. Vewerk tot die mengsel ’n diep groen kleur kry. Jy kan die skil van een suurlemoen byrasper. Dit gee 'n lekker smaak aan die sous.

Kerrie blare
As jy nie vars kerrieblare in die hande kan kry nie kan jy dit maar uit die resep los maar dit voeg nogals lekker smaak by hierdie dis. Braai die vars blare net in ’n pan met bietjie olie tot lekker bros. Dreineer op kombuispapier en sit bo-op die slaai as jy alles gemeng het.

Pak die slaai uit op n groot wit oppervlak. Ons het tafeltjies gemaak met groot stukke wit was papier wat die kos ongelooflik mooi laat uitstaan het. Maak seker dat elke komponent op sy eie gesien kan word deur die hele oppervlak te gebruik om een groot geheel te vorm.              
Wilde Wellington met Geel Saffraan Risotto         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Geel
Ons het fantastiese kleur idees gekry in die Atlas-trading winkel in die Bo-Kaap. Geure van kerrie borrie en saffraan gaan beslis baie prominent wees. Die vleis word gebak in n skilferkors omhulsel tot goudgeel.

Bestandele:
• 150g wild lende per persoon
• 500g wilde sampione
• 2 medium uie, gekap
• 1 suurlemoen se sap
• Vars tiemie takkies na smaak
• Sout en swartpeper na smaak
• 4 rolle klaargerolde skilferkors deeg
• 3 eiers, geklits met bietjie room

Braai eerste die sampioene met die uie in bietjie olie tot gaar en effe bruin. Geur na smaak met sout, peper en vars tiemie. Druk die suurlemoen sap by die sampioen mengsel en verwerk tot ’n growwe smeer.

Geur die vleis met sout en peper en vryf in met bietjie olie. Braai in ’n baie warm pan aan al die kante om sodoende die vleis te seël. Sny blokkies deeg net groot genoeg om die vleis in toe te draai en smeer van die sampioen vulsel waar die vleis gaan lê. Sit die vleis op dit neer en rol die deeg om die vleis. Verf die buitekant met die eier mengsel en bak in ’n matige oond van 180 grade tot ligbruin aan die buitekant. Die deeg behoort teen hierdie tyd gaar te wees.

Saffraan Risotto

Bestandele:
• 1 bakhand risotto rys per persoon
• 3 fyn gekapte wit uie
• 500ml droe witwyn
• Genoeg groente aftreksel om die risotto gaar te kook. Sowat 1.5l maar dit hang af van die rys
• 1 g saffraan
• 125g botter
• 2 koppies gerasperde parmasaan kaas

Verhit eerstens die aftreksel met die saffraan tot die vloeistof geel word.
Braai eers die gekapte uie in bietjie olie en botter op ’n lae hitte tot deurskynend. Voeg nou die rys by en braai nog so ’n bietjie. Voeg nou die witwyn by en roer voortdurent tot die wyn alles verdamp het. Jy kan op hierdie stadium die aftreksel begin byvoeg maar net lepel vir lepel. Roer weereens voortdurend. Doen so voort totdat die rys al dente is. Voeg nou die botter en die kaas by en roer tot alles in die rys verdwyn. Proe vir smaak.

Om te bedien kan jy klein oranje wortels kook in water en bietjie braai in botter. Geur dan met sout, peper, bietjie kerrie poeier en bietjie suurlemoensap. Skep die risotto op ’n bord en sit die gaar deeg pakkie by dit. Bedien die wortels bo op die risotto.


Koekstruif elemente in Rooi         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Rooi
Die verskillende skakerings van rooi en die smaak elemente werk regtig baie goed saam en maak 'n indrukwekkende geheelbeeld.

Koekstruif elemente:
Al die rooi goed het ons heel opgewonde en dit lyk fantasties. Gee ook jou eie interpretasie met produkte wat in seisoen is en goed waarvan jy hou. Die moontlikhede is eindeloos.

• Klein bloedrooi toffie-appels
• Aarbei- of framboossous/stroop
• Rooibolus koekiekrummels
• Casis jellies
• Klein aarbei malvalekkers

Klein bloedrooi toffie appels
Bestandele:
• 500g wit suiker
• 5ml rooi voedselkleursel
• 20 klein geblikde appels

Smelt die suiker in ’n kastrol oor matige hitte tot die mengsel lyk soos sterk swart tee. Voeg nou die voedselkleursel by en roer vinnig deur. Doop nou baie versigtig die appels in die stroop en laat effe afdrip. Sit dit op ’n stukkie foelie wat jy met kleefwerende sproei gespuit het. Laat die suiker stol en gebruik dieselfde dag.

Aarbei- of framboos sous/stroop
Bestandele:

• 300g frambose of rooibessies van jou keuse
• 50g versiersuiker of na smaak

Strooi die suiker oor die bessies en druk effe fyn met ’n vurk.  Laat effe staan en gebruik net so op jou nagereg. Bessies se smaak mag dalk verskil van soet en suur so proe maar voor jy dit gebruik.

Rooi Koekie krummels

Bestandele:
• 250g koekmeelblom
• 125g botter
• 2tl rooi/oranje poeier kleursel
• 100g suiker

Vryf die botter in by die meel en voeg die kleursel by. roer goed deur en strooi die suiker bo-oor. Strooi op ’n bakplaat en bak in ’n voorverhitte oond van 180 grade tot gaar. Dit neem ongeveer 20 minute. Laat afkoel en krap los met ’n vurk.

Kersie jellies
Bestandele:
• 300ml kersie liquier
• 200ml water
• 5 blare gelatine
• 200g vars kersies, ontpit

Week eers die gelatine in die koue water. Verhit nou die liquier en voeg die water en gelatine daarby. Roer tot dit smelt. Spuit ’n vorm met kleefwerende sproei en gooi die kersies daarin. Gooi nou die vloeistof oor en laat stol in die yskas. Dit neem so ongeveer een uur maar kan oornag in die yskas staan as jy dit bedek.

Klein aarbei malva lekkers
Bestandele:
• 250g strooisuiker
• 100ml water
• 1 eetlepel glukose
• 10g gelatine, spons met 200ml koue water
• 1 eier wit
• 100g gekapte aarbeie
• 2 koppies klapper wat gekleur is met 20ml rooi voedselkleursel

Maak eerste ’n suikerstroop met die suiker, water, glukose tot alles gesmelt het. Voeg nou die gelatine by en sit dan die eierwitte in jou klitser. Begin klits tot sagtepunt stadium en voeg die suikerstroop stelselmatig by in ’n klein stroompie.  Klits nou hierdie mengsel tot dit afgekoel en stewig is. Jy kan dan die aarbeie hier byvou. Gooi die klapper in ’n plat oondbak en laat val lepels vol van die mengsel op die klapper. Sit in die yskas sodat dit kan stol. Dit neem sowat een uur. Bedien dit saam met die ander komponente op die bord.

Makietie Fees van Kleur Dekor Idees:
• Trek die hele vertrek oor met wit papier wat die skoonmaak later gaan help en 'n indrukwekkende studio gevoel gaan skep
• Maak klein wit tafeltjies waarby gaste op die vloer kan sit met goedkoop kussingtjies en kan ook dien as geskenke
• Maak ligte vir elke eetstasie uit herwinde twee liter melk bottels
• Maak wit linne tunieks vir elke gas om deel te vorm van die geheel en ook om hulle klere te beskerm teen die kleurpoeier
• Maak bakke vol kleurpoeier vol om na ete die hele vertrek mee te besmeer en mekaar mee in te kleur!