Thursday 20 March 2014

Mynhardt en Tiaan se Braai

Makietie: Braai

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Die een ding wat ons gesamentlik as 'n land vervolmaak het is 'n ‘braai’! Noem jy die woord en almal is dadelik opgewonde en dink aan wat kan en moet gedoen en gebeur sodat almal gesellig om n vuurtjie kan sit en kuier tot ou nag toe.

Vir hierdie hoofstuk neem ons ons toevlug tot die wingerd en soos gevlegde wingerd lote sit ons vir julle 'n braai met 'n lekker ‘twist’ aan mekaar. Ons het al die wynmakers van om die berg genooi om saam te kom kuier, hulle beste wyne voor te sit en saam met ons allerhande gevlegde kosse en dekor dinge te geniet.

Die buurman leen vir ons die mooiste tafels uit wyn balies gemaak en ons dek net daar op die kontoerwal met gevlegde wingerd kranse, gevlegde tafeldoeke, Mal Miem se braaisous as geskenke en die vure is aan! n Braai gaan tog oor die kuier en hierdie een was geensins anders nie. Die son het al lankal gesak toe ons almal nog droe wingerd takke en stokkies optel om die vuurjie aan die gang te hou, die maan te sien opkom oor die Swartland se wingerde en die laaste van die berg se wyn versigtig klaar te drink met die hoop dat die aand verewig kon aan hou!

Spyskaart:
 
Gevlegde plaasbrood en Gevlegde vark         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Gevlegde Vark

Voorbereiding: 20 minute en +- 30 minute se braai

Vra jou slagter vir lekker dik gesnyde varkliesrepies - genoeg vir twee vir elke gas. Sny die stukkie vleis van bo na onder twee keer sodat jy drie stringe het met die bokant aan mekaar. Vleg dit nou soos 'n koeksister en steek aan die onder kante vas met 'n tandestokkie. Marineer in Mal Miem se sous oornag vir die beste resultate. Braai stadig oor die vuur en sit voor met gevlegde plaasbrood en botter.

Gevlegde plaasbrood
Hierdie is 'n basiese broodresep wat baie maklik is om te maak en lekker vinnig rys. Die broodjie kan aangepas word met lekker byvoegings soos olywe, songedroogde tamaties en vars kruie vir 'n interssante kinkel.

Voorbereiding: Twee ure vir maak en rys en vleg

• 500g broodmeel
• 5ml sout
• 5ml suiker
• 1 pakkie droë gis
• 325ml louwarm water
• Bietjie olyfolie

Voeg droë bestanddele bymekaar en sit in menger. Voeg water en olie by en knie tot 'n sagte deeg vorm; laat rys tot dubbel in volume en knie af. Druk uit op 'n toonbank wat met meel bestrooi is en sny reghoeke uit in die grootte van 'n bankkaart. Sny 2 mote in en vleg soos 'n koeksister - nou is dit reg vir die kole! Braai die broodjies op 'n matige vuur en wees versigtig dat hulle nie skroei nie maar heeltemal gaar is in die middel; 8 tot 10 minute aan 'n kant.

Hierdie brood kan jy ook in die oond bak as jy nie veilig voel met die roosterkoek uitstappie nie.

Mal Miem se Braaisous
Mynhardt vertel: "Een van my Ouma se familiefoto's met drie sussies op het twee name in 'n dun handskrif by gehad, die een was Bet Kol en die ander Mal Miem. Die twee het my vir jare lank gefasineer en toe ek die braaisousie aan mekaar sit in my vorige resturant, Bar Bar Black Sheepin Riebeek Kasteel waar omtrent als 'n snaakse naam gehad het, roep ons toe vir Mal Miem in die lewe. Hier is 'n lekker klomp mal bestandele in en dit is so eenvoudig om te maak en altyd 'n treffer met enige vleis. Dit laat my nou wonder of ek dit eintlik moet deel...?"

Voorbereiding: 15 minute

• 5 naeltjies fyn geslaan
• 10 lourier blare
• 1 eetlepel vinkelsade
• 1 teelepel komynsade
• 2 eetlepels geskroeide koljander grof fyn gekap
• 'n Paar knippies sout en growwe swart peper
• 2 eetlepels gerookte paprika
• 1 teelepel droë rissievlokkies
• 5 huisies knoffel fyn gekap
• Gerasperde skil van twee groot lemoene
• Sap van drie groot lemoene
• Hand vol gekapte vars koljander
• 10 takkies gekapte vars tiemie
• 5 takkies gekapte vars roosmaryn
• 125ml heuning
• 125 ml balsamiese asyn
• 125 ml soya sous
• 750ml goeie kwaliteit tamatie sous
• 1 blikkie tamatie pasta
• 125ml olyfolie
• 125ml koud geparsde sonnemblomolie

Maak seker al die vars kruie is lekker fyn gekap. Meng al die bestandele saam. Die sous kan baie suksesvol vir tot 'n maand in die yskas hou en maak wonderlike geskenke. Vir ons braai het ons herwinde olyfolie bottels gebruik met kurkproppe wat baie goed werk en die sous lank laat hou.
 
Keiserslaai met braai mielies in spek en Steak         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Keiserslaai

Voorbereiding: 45 minute
Bestandele:
• 2 pakke 'baby gem' slaai blare, gewas
• 3 eier gele
• 1 eetlepel korrel mostert
• Sap van 1 suurlemoen
• Knippie sout
• 250ml sonneblomolie
• 50g fyn gerasperde parmesan kaas
• 1/2 k jogurt
• 5 ansjovis filette, fyn gekap

Voeg die eiergele, suurlemoensap, mostert en sout saam en klits. Gooi nou 'n dun straal olie by terwyl jy klits tot als bygevoeg is, gooi nou die kaas, ansjovis en joghurt by en roer goed deur. Hou koel in die yskas tot voor bediening.

Die Mielies
• 5 vars mielies in 3 gesny
• 15 repe spek
• Tandestokkies
• Knoffelbotter

Kook die mielies tot gaar en draai nou 'n reep spek om elkeen. Steek dan vas met 'n stokkie en braai oor warm kole tot die spek bros braai. Verf gereeld met die botter.

Spoel die blare in yskoue water af, skud goed uit, plaas op 'n lekker groot bord en bedek die blare in genoeg slaaisous en sit voor saam met die mielies en ansjovishappies.

Steaks en salsa
'n Mens kan nie veel verkeerd doen as jy 'n goeie gehalte vleis het nie. Maak seker die vleis het vir lank genoeg verouder en moet dit nie te gaar maak nie.

• 300g rib eye steak per persoon
• Sout en peper na smaak
• Bietjie olie

Salsa
Die resep is vinnig en maklik om aanmekaar te slaan. Sit 'n bietjie vars rissies by vir 'n ekstra skop en enige lekker seisonale toevoegings.

• Hand vol basilliekruid
• 500g klein rosa tamaties, in die helfde gesny
• Vars pietersielie en koljander gekap
• 2 rooi uie, baie fyn gesny
• 1 suurlemoen se sap en skil
• Knippie growwe swart peper en sout

Meng alles saam en hou in die yskas tot net voor opdiening.

Mens kry deesdae pragtige kleure wat heerlik smaak, probeer ook sommer jou eie groei!

Vir die braaislag!
Maak 'n baie warm vuur en sodra jou kole reg is, smeer die vleis met olie, sout, peper . Braai eers aan die een kant vir sowat 3 minute en draai om. Braai verder vir nog sowat 3 minute. Haal af en laat rus vir sowat 5 minute. Gooi hulle weer terug voor opdiening om deur warm te word en bedien met die vars salsa
 
Koeksister en rolkoek parfait met gebraaide piesang         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Koeksister en rolkoek parfait met gebraaide piesang

Voorbereiding: Halfuur vir maak en vries oornag

• 1 dosyn lekker koeksisters
• 1 rolkoek
• 2 l tuisgemaakte vanielje roomys (sien resep in Rugby Makietie net sonder die drop)
• 1 eetlepel gekapte laventel blommetjies
• 1 piesang per persoon,nie te ryp nie
• Sagte bruin suiker

Kap die koeksisters lekker fyn en meng saam met die laventel deur die roomys. Bedek die basis van 'n broodpannetjie met kleefplastiek. Pak die basis uit met rolkoek en giet die roomysmengsel bo oor. Pak weer rolkoek bo op en vou die plastiek oor. Vries tot stewig. Skil die piesangs en sny in die lengte. Strooi met bietjie bruin suiker en braai op die laaste stadige kole van die vuur of n riffel pannetjie op die stoof as die kole al gaan le het. Sny jou rolkoek parfait in skywe en bedien met die piesang. En soos ons gesê het... steek dit goed weg!