Monday 24 March 2014

Groenboontjiebredie met patat




Heilie se vinnige groenboontjiebredie
Groenboontjiebredie met patat
Lewer 4–6 porsies
30 ml (2 e) kook- of olyfolie
ongeveer 750 g lamstowevleis, soos nek of skenkels
1 middelslag-ui, geskil en gekap
500 ml (2 k) beesvleisaftreksel
2 middelslag-tamaties, in klein stukkies gesny
30 ml (2 e) gekapte vars gemengde kruie of 10 ml (1 t) droë kruie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2 middelslag-patats, in dik skywe gesny
ongeveer 200 g groenboontjies, gehalveer
15 ml (1 e) koekmeelblom om sous te verdik
Metode
1. Verhit die olie in ’n swaarboomkastrol en braai die lamsvleis tot goudbruin. Voeg die ui by en braai tot sag.
2. Voeg die vleisaftreksel, tamaties, kruie en geurmiddels by. Plaas die deksel op en laat prut vir ongeveer ’n uur.
3. Voeg die patats en groenboontjies by en laat prut vir ’n verdere 15 minute of totdat die vleis sag is. Verdik die sous met koekmeelblom opgelos in water. Laat kook vir ’n paar minute sodat die sous verdik en sit warm voor met stysel soos kapokaartappels of gegeurde rys.
Variasies
Vervang die boontjies en patats deur enige ander groente, soos wortels, murgpampoentjies of pampoen.

('n Bredie is ’n ou Kaapse naam vir ’n vleisgereg wat met groente baie stadig geprut word totdat die vleis sag is. Die naam van die bredie word ook gewoonlik bepaal deur die groente wat gebruik word. Enige vleis met been kan gebruik word, hoewel lamsvleis veral geskik is. Die groente van jou keuse kan ook gebruik word, maar hou in gedagte dat aartappels die sous help verdik. Die geur van ’n bredie ver­beter wanneer die gereg ’n dag of twee vooraf gemaak word.)