Monday 13 January 2014

Tiaan en Mynhardt se Ontbeende lamsboud




Ontbeende lamsboud confit bedien met dauphine aartappels, groen groente en rooiwyn sous
Voorbereiding: 8 ure of oornag

Ons het lanklaas so 'n lekker stukkie vleis aan mekaar gesit. Die bak in die olie teen 'n lae temeratuur verseker dat die boud geseël is, geen olie trek in nie maar bewaar al die natuurlike sappe wonderlik. Die vleis is baie sag na die kookproses en smelt letterlik in jou mond. Maak seker jy het of leen sommer 'n goeie swaarboompot wat die wêreldse verskil maak.

• 2 ontbeende lamsboude
• Genoeg kookolie om als te bedek

Sit die lam in 'n diep pot wat in die oond pas. Bedek met olie ensit die deksel op. Sit in 'n oond van 80 grade en bak oornag of sowat 8 ure tot sag. Verwyder uit die olie tot op 'n afkoelrak sodat al die olie kan afloop.

Dauphine Aartappels

Voorbereiding: 25 minute

Die resep mag dalk gekompliseerd lyk maar is eintlik heel eenvoudig. Die finale produk smaak soos gebakte aartappel maar is veerlig en baie sag! Vir 'n lekker kinkel, sit 'n sterk kaas en neutmeskaat by

• 500g choux deeg
• 500g kapokaartappels

Choux Deeg

• 200g botter in blokkies
• 400ml water
• Knippie sout
• 450 ml koekmeel gesif
• 6 eiers

Smelt botter in n kastrol saam met water en sout en laat amper kook. Haal dadelik van die stoof af en voeg die meel by en meng baie vinnig. Klop totdat dit heerlik glad is sit terug op die stoof vir n minuut en bly roer totdat al die deeg wegtrek van die kante af en n stywe bal gevorm het haal dadelik af en laat vir n paar minute asem haal en rus. Sit nou die eiers een vir een by en klits baie goed na elke toevoeging die deeg sal blink en sag word en van jou lepel af val. Dit is nou reg vir die aartappels! Meng die kapok aartappels en die choux saam en braai lepels vol in medium olie tot ligbruin en gaar. Laat rus op handoek papier en dreineer. Kan net voor opdiening warm gemaak word.

Groen Sondag groente

Voorbereiding: 15 minute

Die metode van groente gaar maak is baie lekker aangesien dit nie dood gekook is nie en ons nog die wonderlike vars smaak en kleur behou. Om 'n bietjie tiemie en knoffel by te gooi of enige krui wat vir jou lekker smaak sal glad nie skade doen nie.

• 'n Groot verskeidenheid groen groente soos aspersies, dun groen franse boontjies, mangetout en selfs broccolini geblansjeer
• Botter vir braai
• Sout en peper na smaak
• 2 suurlemoene

Verhit die geblansjeerde groente in 'n pan met die botter en geur met sout en peper. Druk genoeg suurlemoen sap oor dit uit en rasper sommer van die skil ook oor vir n lekker vars byt smaak. Verhit voor opdiening in dieslefde pan met sy souse.

Die heerlikste Rooiwyn Sous!

Daar kom net niks by die diep geurige smaak van hierdie wonderlike sous nie. Niks wat uit 'n pakkie kom sal ooit die wonderlike hoogtes bereik van 'n sous wat met liefde aan mekaar gesit is nie. Hierdie kan ook 'n dag voor die tyd gemaak word en is eintlik lekkerder as dit 'n bietjie gestaan het. As jy nie self die lam aftreksel wil maak nie, is daar, en ons mag nie name noem nie..., die wonderlikste voorbeelde van nat aftreksels in die winkels.

• 2 bottels rooiwyn
• 3l lams aftreksel
• 2 takkies Roosmaryn
• 5 Peper korrels
• 3 Stêr anys

Kook die wyn af tot 'n kwart saam met die kruie en speserye. Voeg die aftreksel by en kook weer af tot lekker sous vorm, dit gaan ongeveer 1 ½ uur neem so wees maar geduldig. Gooi deur 'n sif sodat die kruie agter bly. En bedien oor die vleis. Mmm...