Tuesday 14 January 2014

GESONDE KOSBLIK VIR POUSE




Liefa Griesel

GESONDE KOSBLIK VIR POUSE

Moet jy elke dag van die week vir jou kinders ’n kosblik inpak?
Is jou kind vol fiemies en sukkel jy om hom gesond te laat eet?
Hier is ’n paar wenke en idees wat dinge vir jou makliker sal maak:

Dink vooruit
Beplan vooruit, anders gaan jou kind elke dag ’n Marmite-broodjie skool toe kry.
Dink hoeveel maaltye die kos in die kosblik moet vervang en pak genoeg kos in.
Maak dinge makliker deur oorskiet kreatief te gebruik.


Speel ’n bietjie
Kinders eet ook met hul oë, so probeer om die kosblik so interessant en pret as moontlik te maak.
Die verpakking en die aanbieding is baie belangrik.
◾Laat jou kinders hul eie kosblik en koelsak uitkies.
◾Koop kleurvolle plastiekeetgerei en servette.
◾Gebruik koekiedrukkers om interessante toebroodjies te maak.
◾Laat jou kinders hul eie mengsel van neute en droëvrugte maak, of laat hulle jou help om muffin te
bak.

Vyf van die beste
Pak ’n gesonde, gebalanseerde maaltyd in deur kos uit al vyf voedselgroepe in te sluit:
◾Brood en stysel
◾Proteïne
◾Melk en suiwelprodukte
◾Vrugte en groente
◾Vette en olies (Pak soms ’n paar lekkers in – balans is baie belangrik.)

Wenke
◾Vries jou kind se koeldrank of water die aand voor die tyd. Dit sal heeldag ontdooi en lank koel bly.
◾As jy tamatie op ’n toebroodjie sit, moenie die tamatie direk op die brood sit nie.
Tamaties bevat baie water en sal die brood nat en papperig maak.
◾As jy avokado gebruik, gooi ’n bietjie suurlemoensap daaroor om te verhoed dat die avokado verkleur.