Tuesday 17 December 2013

Konfyttertjies




Konfyttertjies
Genoeg vir: sowat 24
Bereidingstyd: 1 uur
Oondtemperatuur: 200 °C
Baktyd:20 minute

500 ml (240 g) koekmeel
45 ml versiersuiker
200 g botter, in blokkies gesny
1 eiergeel
30 ml yswater
325 ml appelkoos- of aarbeikonfyt

1 Smeer die holtes van ‘n vlak kolwyntjiepan met botter. Sif die koekmeel en versiersuiker saam in ‘n mengbak. Vryf die botter in die droë bestanddele totdat dit soos fyn broodkrummels lyk. Meng die eiergeel en yswater en voeg by die droë bestanddele. Meng die deeg in ‘n bal deur dit bymekaar te druk. Draai die deeg in kleefplastiek toe en plaas in die yskas vir sowat 30 minute.
2 Voorverhit die oond. Verdeel die deeg in twee en rol die een helfte op ‘n meelbestrooide oppervlak uit tot sowat 2-3 mm dik. Gebruik ‘n koekiedrukker en druk sirkels uit die deeg (groter as die holtes van die pan wat jy gaan gebruik). Plaas die deegsirkels in die gesmeerde pannetjie en prik die bodem van elkeen met ‘n vurk. Skep sowat 7 ml konfyt in die middel van elke deegsirkel.
3 Rol die oorblywende deeg uit en sny in dun repe. Vorm ‘n kruis bo-op elke tertjie met die deegrepe. Bak vir sowat 20 minute of tot die deeg goudbruin en gaar is.