Monday 11 November 2013

Vinnige souttert




Vinnige souttert
Lewer 4 – 6 porsies
Enige bestanddele soos koue vleis, hoender of vis kan maklik gebruik word om hierdie gereg in iets besonders en geurigs te omskep. Selfs oorskietvleis is ideaal!

15ml (1e) olyfolie
15ml (1e) botter of margarien
1 medium ui, grofgekap
250g kaasworsies, skywe gesny
125g knopiesampioene, skywe gesny
30ml (2e) gekapte vars kruie of 10ml (2 t) droë
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
250ml (1k) gerasperde cheddarkaas
2 ekstragroot eiers
200ml (¾k) melk
45ml (3e) koekmeel

Metode
1. Verhit olie en botter in ’n swaarboompan. Voeg ui by en soteer ’n paar minute lank tot sag en effens bruin. Voeg die gesnyde worsies, sampioene, kruie en geurmiddels by en soteer liggies. Verwyder van hitte en laat effens afkoel.
2. Voeg die kaas by, meng deur en skep in ’n oondvaste bak van omtrent 18?cm in deursnee.
3. Klits die eiers, melk en meel goed saam. Giet oor die uiemengsel in die bak.
4. Bak vir omtrent 25 minute in ’n voorverhitte oond teen 180 °C of tot geset en goudbruin.
Variasies
Vervang die worsies met enige ander vleis soos streepspekvleis, gekapte ham of selfs maalvleis.
Vir ’n vegetariese opsie, gebruik groente soos aspersies, preie, kersietamaties of spinasie.
(Rapport)