Wednesday 22 May 2013

Soetsuurdeeg Resep

Tania Schreuder Van Zyl
Jan Grobler, hierdie is die Soetsuurdeeg Resep wat die naaste aan my skoonma s'n is.

Om en by 15:00 op die dag voor bakdag:

Gooi 1 teelepel sout, 3 t suiker en een kleinerige fyn gerasperde aartappel in ’n 3 tot 4 liter-(verkieslik)-emaljekastrol of emmer met digpassende deksel. Gooi hieroor 5 koppies kookwater en laat afkoel totdat dit nie meer stoom afgee nie.

 Gooi nou hieroor versigtig laag vir laag, volgraan en brood- of koekmeel (3 k volgraan, 1½ k brood- of koekmeel). Sit die deksel op en plaas die houer in ’n hooikis. Hierin moet dit heelnag lekker snoesig broei.

Om en by 06:00 die volgende oggend:

Die “suurdeeg” moet nou skuimerig wees. Roer deur en voeg nog 2½ k volgraan en 1½ k koek- of broodmeel by. Dit sal nou die konsistensie van stywe hawermoutpap hê. Plaas die kastrol./.emmer met deksel en al in ’n vlak bakpan in ’n louerige oond (verhit tot so 70º C en skakel af). Laat staan in oond totdat die deksel begin lig.

Meng intussen 2.5 kg wit (brood- of koek-)meel en die res van die pak volgraan in jou knieskottel. Voeg by 8 t fynsout. Maak ’n holte in die meel en gooi die skuimende suurdeeg daarin. Knie met louwater en 250 g Stork Bake-margarien tot ’n redelik stywerige deeg.

As jy boerbeskuit wil bak, knie nog 250 g margarien in en maak dan balletjies wat halfpad so hoog soos die broodpan is. Smeer die hande deurentyd met margarien. Smeer margarien bo-oor en maak toe met plastieksakke en afdroogdoeke bo-op die plastiek. Plaas in lou (± 70º C) oond (afgeskakel). Laat rys tot panne amper vol is, haal uit en verhit oond tot 180º C. Smeer ’n mengsel van 1 eier en ’n bietjie melk bo-op die deeg net voordat die panne in die verhitte oond geplaas word. Bak vir 1 uur tot 1 uur 10 min.