Tuesday 21 May 2013

Kweper-frummeltert




Ek hou daarvan om ’n bietjie ­donker bruinsuiker by die frummel te voeg, want dit gee ’n lekker karamelsmakie. Jy kan een groot tert maak, of sowat ses kleintjies in ramekins.

sowat 2 k (1½ bottel) ingelegde kwepers (of meer, indien jy so verkies)
3 ml kaneel
¾ k suiker (of ½ k suiker en ¼ k donker bruinsuiker)
1 k meel
5 ml bakpoeier
1 ml sout
1 ekstragroot eier
100 g botter (nie margarien nie)

1. Smeer die tertbord of ramekins met botter. Voorverhit die oond tot 180°C.
2. Skep die kwepers in die tertbord of ramekins en giet ook ’n bietjie van die stroop by.
3. Meng die kaneel, suiker, meel, bakpoeier en sout saam (as die bruinsuiker klein klontjies bly, moenie jou daaroor bekommer nie).
4. Klits die eier liggies. Maak ’n holte in die middel van die droë bestanddele en giet die eier daarin. Meng met ’n vurk en dan verder met jou vingers totdat die mengsel soos growwe broodkrummels lyk.
5. Smelt die botter in die mikrogolf. Strooi die frummelmengsel oor die kwepers. Sprinkel die gesmelte botter oor sodat dit hier en daar in die frummels intrek.
6. Bak vir 30 minute tot goudbruin en sit warm voor met dubbeldik plaasroom.