Tuesday 12 March 2013

Paaskolwyntjies (Diabete)




 (sowat 24 Kolwyntjies)
  • 100 g 70%-donkersjokolade, gekap
  • 125 ml kookwater
  • 125 ml laevet-margarien
  • 45 ml suiker
  • 125 ml suikerplaasvervanger
  • 4 eiers, geskei
  • 10 ml vanieljegeursel
  • 250 ml koekmeelblom
  • 310 ml volkoringmeel
  • 5 ml koeksoda
  • 2,5 ml sout
  • 250 ml karringmelk
Bolaag
  • 250 ml laevet- ingedampte melk
  • 80 ml suikerplaasvervanger
  • 1 eier
  • 15 ml koekmeelblom
  • 30 ml laevet-margarien
  • 10 ml vanieljegeursel
  • 190 ml klapper
  • 80 ml pekanneute, gekap
  • sjokoladeversierings (hasies, ens.) van 70%-sjokolade of suikervrye sjokolade vir boop (opsioneel)
Verhit oond tot 180 °C.
Voer 2 standaard-muffinpannetjies uit met papierbakkies en spuit met kleefwerende kossproei.
Smelt die sjokolade in die kookwater. Room die margarien, suiker en suikerplaasvervanger saam.
Voeg die eiergele een vir een by en meng goed ná elke byvoeging. Voeg vanielje by. Voeg die sjokoladewater by die margarienmengsel en meng goed.
Sif die koekmeelblom, volkoringmeel, koeksoda en sout saam. Vou nou die droë bestanddele alternatiewelik met die karringmelk by die margarienmengsel in.
Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou dan laaste by die mengsel in.
Skep in die voorbereide papierbakkies en bak 20 – 25 minute tot gaar.
Bolaag
Meng die ingedampte melk, suikerplaasvervanger, eier en meelblom. Voeg die margarien by en kook ongeveer 10 minute terwyl aanhoudend geroer word.
Verwyder van stoofplaat en voeg vanielje, klapper en neute by. Smeer oor kolwyntjies sodra dit uit oond kom.
Laat afkoel en versier met die sjokoladevormpies.
Wenk:  Dit kan dalk lyk of die kolwyntjies skif sodra jy die eiergele bysit, maar jy hoef jou nie te bekommer nie – sodra die meel en karringmelk bygevoeg word, kom alles weer mooi bymekaar en dit het geen invloed op die eindproduk nie.

Paaskolwyntjies analise - (20 kolwyntjies - 1 porsie = 1 kolwynjie)
Energie - 908 KJ, Koolhidrate - 18 g, Proteien - 6 g, Vet - 15 g, Vesadigde vet - 7 g, Mono-onversadigde vet - 3 g, Poli-oversadigde vet - 3 g, Cholesterol - 60 mg, Glukemiese lading (GL) – 8,6