Tuesday 26 March 2013

Kerrievis




• 1,5 kg visfilette, vel verwyder
• 250 ml (140 g) bruismeel
• sonneblomolie vir braai
• 3 groot eiers, liggies geklits
• 750 ml bruin asyn
• 225 ml (280 g) suiker
• 10 ml fyn borrie

• 50 ml matige of mediumsterk kerriepoeier
• 15 ml swartpeperkorrels
• 3 groot uie, fyngekap
• 6 lourierblare
• 40 ml koekmeel

1 Sny die vis in blokkies van 5 cm. Druk die stukkies in die bruismeel sodat dit oraloor bedek is. Verhit ’n dun lagie olie in ’n groot pan oor medium tot hoë hitte. Sodra die olie warm is, kan jy ’n paar stukkies van die meelbedekte visblokkies in die geklitste eier doop. Laat die oortollige eier afdrup en braai dan die vis vir ’n paar minute aan elke kant in die warm olie tot deurgaar en goudbruin. Dreineer dit op kombuispapier. Herhaal met die res van die visblokkies. Hou dit eenkant.

2 Verhit nou die asyn, suiker, borrie, kerriepoeier, peperkorrels en 7 ml sout in ’n groot kastrol. Verhit dit tot kookpunt en gooi dan die uie en lourierblare by. Sit die deksel op en laat dit vir 10 minute prut.

3 Gooi koekmeel in ’n klein bakkie en voeg ’n lepel vol van die warm mengsel uit die kastrol daarby. Roer dit goed tot glad en roer dan die mengsel in die kastrol by. Laat dit kook en roer die mengsel tot dit effens begin verdik.

4 Bedek die bodem van ’n bak (nie van metaal nie) met ’n laag van die sous. Skep ’n laag gebraaide vis daarop en gooi nog sous oor. Herhaal die lae. Bedek dit goed en sit dit vir minstens ’n dag in die yskas voor dit geëet word. Dis die heel beste ná drie dae. Dié piekelvis sal vir tot ses maande in die yskas hou.