Monday 25 March 2013

Gemmer-en-peerkonfyt

Probeer dié konfyt op vars skons of warm roosterbrood.   2,25 kg ferm pere, geskil, ontkern en grof gekap
6 x 250 ml witsuiker
2 groot suurlemoene, in kookwater gedompel
250 ml gepreserveerde gemmer in stroop  
Meng die pere en suiker in 'n groot pot. Haal die suurlemoene uit die kookwater, sny in kwarte en verwyder alle pitte. Verwerk die suurlemoenkwarte saam met die gepreserveerde gemmer in die stroop in 'n voedselverwerker tot amper fyn. Voeg by die pere en suiker in die pot. Verhit stadig tot kookpunt (ál die suiker moet eers gesmelt wees voor die mengsel begin borrel). Prut stadig vir ongeveer een uur tot die konfyt setpunt bereik. Moet dit nie té lank kook nie - onthou, daar is suurlemoen in wat ook pektien bevat en verder gaan bydra om die stroop te stol. Giet in gesteriliseerde flesse en seël. Lewer ongeveer 2 liter konfyt.