Thursday 7 February 2013

Geurige soetrissie-roereierpakkies met avokado en suurroom




Maak genoeg vir 4 persone.

6 eiers
50 ml melk
5 ml mielieblom (Maizena)
5 ml varsgekapte Italiaanse pietersielie of koljander (opsioneel)
1 mediumgrootte ui, fyngekap
1 mediumgrootte rooi soetrissie, in klein blokkies gekap, so groot soos die uie
15 ml ligte olyfolie
5 ml Ras el Hanout of 2.5 ml ligte kerriepoeier en 2.5 ml borrie
gedroogde rissies (opsioneel)
sout en varsgemaalde swartpeper
4 tortillas of wraps (verkieslik nie die heel groottes nie, of is jy só honger?)
1 avokadopeer
15 ml suurlemoensap
nog sout en varsgemaalde swartpeper
suurroom
 

Braai die gekapte ui en soetrissie in die olie vir 7 tot 10 minute. Maak seker die braaipan is groot genoeg om later die 6 eiers te akkommodeer. Voeg die Ras el hanout by, maal gedroogde rissies oor. Bepaal maar self hoeveel jy van brandgoed hou! Geur met sout en peper.

Jy kan gou die eiermengsel en avokado regkry terwyl die groente braai.

Meng die melk sluk-sluk by die mielieblom in sodat dit nie klonte vorm nie. Gooi dit by die eiers en klits alles saam.

Gooi die eiermengsel by die groente in die pan en roer voortdurend oor hitte totdat die eier net-net gaar is. Hou in gedagte dat die eiers nog gaar word nadat jy dit van die hitte af verwyder het.

Maak die avokado: Druk die avokado fyn en geur dit met sout, swartpeper en suurlemoen.

Maak nou die tortillas of wraps warm, jy kan dit in foelie toedraai en 5 minute by 180 °C in die oond "bak" of in 'n vadoek toedraai en vir 30 sekondes in die mikrogolf plaas.

Daar is 2 manier waarop jy die pakkies kan maak:

Skep die gegeurde roereier op een kwart van die tortilla en vou dan in kwarte. Of skep die roereier in die middel, laat ongeveer 5 cm oop aan die onderkant. Vou dan die 5 cm-stuk oor die eier en vou dan die kante om. As dit uitmekaarval kan jy 'n tandestokkie strategies indruk om dit vas te hou tot jy eet.

Skep voor opdiening die avokado en suurroom bo-op die pakkie en bedien nog on the side vir die eters om hulself te help.

WENK: 
Jy kan ook 'n vars rissie kap en saam met die groente braai. Gerasperde Cheddarkaas om ook in die pakkie te sit, is heerlik!