Monday 28 January 2013

Roosgegeurde vrugteslaai met granola en joghurt





Maak genoeg vir 2.

Die wonder is dat mens dit regdeur die jaar kan eet, met 'n verskeidenheid van vrugte wat jou gelukkig maak. Met granola en joghurt by word dit 'n substansiële ontbyt. En die rooswater en roosblare gee dit 'n bietjie andersheid.

250 g gemengde vrugte (soos papaja, aarbei, piesang, nektariens)
15 ml heuning
5 ml suurlemoensap
5 ml rooswater*
blare van 1 roos (geen gif gespuit) (opsioneel)
60 g (100 ml) granola of muesli**
200 ml joghurt (vanielje of gewoon)

Sny vrugte in klein blokkies op en meng. In 'n mikrogolfvaste bak of 'n klein potjie meng die heuning en suurlemoensap. Laat die heuning oor lae hitte loperig word. Verwyder van die hitte en voeg die rooswater by. Gooi die mengsel oor die vrugte en meng deur. Skeur van die roosblare in klein stukkies en voeg ook by die vrugte.

Die lyk baie mooi as jy dit in lagies in 'n glas bedien. Maar, don't despair, ek het nie 'n radar wat afgaan wanneer iemand nog deur die slaap dit nie in 'n glas bedien nie!


Versier dit net vir die pret met 'n roosblaartjie of twee.

*Jy kan natuurlik die hele roos-besigheid laat staan, en dit met gekapte kruisementblare vervang. Of met niks!
**Granola of muesli: Enige soort wat jy verkies sal hier reg wees, met of sonder neute; met of sonder vrugte. Probeer ook gerus daardie snack mixes wat sade, vrugte en neute bevat – dis heerlik!