Wednesday 30 January 2013

Om plante uit te plant: Binne- na buitenshuis

Wanneer jy klein plantjies (saailinge) by die kwekery koop, kom sommiges direk uit ‘n kweekhuis of hulle het vir ‘n lang periode dalk onder nette en in spesiale omstandighede gegroei by die kwekery.  Nou plant jy hulle oor in jou tuin en skielik gaan die plantjies sommer net dood sonder verklaring.  Of jy het ‘n plant wat jare lank in die huis gegroei het, maar nou moet hy tuin toe want die plant raak dalk al te groot of jy het net eenvoudig nie meer plek nie.  Hoe nou gemaak?
‘n Wenk is om uit te kyk wanneer jy plantjies koop, waar hulle in die kwekery staan.  As die plantjies bv. onder skadunet staan en daagliks water kry, gaan hulle dalk sukkel as jy hulle direk uitplant in daardie son deurdrenkte droë deel van jou tuin waar die waterstelsel gestel is om elke tweede dag die sproeiers aan te skakel. 
Om plantjies te laat aanpas by nuwe temperatuur en weersomstandighede, moet jy hul eers gewoond maak aan die nuwe wereld voor jy hulle uitplant. 
Die mense praat van “hardening off” – om plantjies “hard te maak”.  Daar is twee maniere wat goed werk:
1)     Plaas hulle eers onder ‘n afdak op jou stoep en sorg dat hul genoeg water kry op dag een, maar dan los jy hulle tot jy sien die blaartjies begin hang.  (Onthou die plant moenie geheel en al uitdroog gedurende hierdie proses nie.)  Gee dan water en los weer tot jy sien die blaartjies begin hang.  Die proses kan so 2 weke neem waartydens jy die plantjie “leer om aan te pas”.  Na 2 weke behoort jy hom te kan uitplant, maar maak seker jy plant nie die plantjie uit op ‘n hittige somersdag nie.  Dit sal help om die skok te verminder.

2)     Plante wat in die huis gegroei het kan 7-10 dae voor jy hulle in die tuin wil plant gereeld uit geneem word in die dag.  Weereens sit jy hulle in die dag nie direk in sonlig nie, maar in skadu onder die afdak op jou stoep.  Saans bring jy die plant weer in die huis.  Dag 1 los jy hom net so vir 3 ure op die stoep.  Dag 2 maak jy dit 4 ure (na gelang van die weersomstandighede) en so vermeerder jy die tyd wat hy daagliks buite spandeer geleidelik om hom gewoont te maak aan die idee van buite wees.  Teen dag 3 of 4 kan jy hom blootstel aan ‘n bietjie sonlig, maar hou dop en moenie vir te lang tye son direk op hom laat skyn nie.  Vermeerder weereens in die volgende paar dae die tyd buite in die sonlig, maar hou sy blaartjies dop dat hul nie begin hang van hitte uitputting nie.  Gee genoeg water.  Teen dag 8 of 10 behoort hul al heerlik buite in die tuin te kuier dwarsdeur die dag en nag.