Wednesday 30 January 2013

Afdroogdoeke in die kombuis

Ek hoor baie keer mense kla oor vadoeke / afdroogdoeke wat nie skoon bly nie.  (Veral in die werkplek of by 'n vakansiehuis is dit somtyds 'n groot probleem waar baie mense toegang tot een kombuis het.)  Hier is 'n paar goeie en goue reëls om te volg om seker te maak jou afdroogdoeke bly mooi, netjies en kiemvry:

1)  Afdroogdoeke is NET vir afdroog (GOUE REëL).  Moenie dit gebruik om goed wat gemors het op te vee of hande aan af te droog nie.  ('n Wenk is om ou handdoeke kleiner te knip, 'n lussie aan te werk en erens in die kombuis op te hang vir hande afdroog, sodat mense jou afdroogdoek los vir borde en glase.  Of hou handdoekrolle byderhand vir opvee van mors plekkies in die kombuis.)

2)  Moenie jou wasbak met jou afdroogdoek afvee of skoonvee nie.  (Gebruik sponsies rondom jou wasbak wat maklik vervang kan word soos nodig.)  Moet veral nooit 'n afdroogdoek gebruik om vleis, vis en/of hoender oorblyfsels op te vee nie. 

3)  Hang altyd 'n klam afdroogdoek oop om droog te word.  Moenie in 'n hopie op die rak laat lê nie.  Dis 'n broei plek vir kieme.

4)  Was jou afdroogdoeke gereeld, en 'n klein bietjie Milton in die water kan help om die kieme onder beheer te hou..... of sommer geheel en al weg te hou.  :-)