Friday 18 January 2013

'n Tuin Dagboek is pret

Januarie is die beste maand om ‘n tuin dagboek te begin.  Neeeeeeeeee dis nie borring nie.  Dit help baie en is eintlik lekker pret.  Met so ‘n dagboek kan jy later ander mense raad gee en vertel wat in jou spesifieke streek gewerk het.  Hier is bietjie idees:

1)       Onthou skooltyd toe jy plakboeke gehad het?  Maak jou dagboek soos ‘n plakboek.  Neem fotos van wat blom in die tuin en plak dit in jou boek met die nodige kort notatjies by.  (Dis later sommer ook 'n lekker fotoboek om mee te spog by vriende en familie.)

2)      Handige kort notas om te maak is bv.:
a.       Die datum van wanneer jy ietsie saai (groente, blomme, ens).  En later kan jy daarby ‘n nota maak van of dit suksesvol was.
b.      Wanneer jy gespuit het vir goggas of siektes.  (Maak weer later ‘n nota as jy sien dit het ‘n goeie uitwerking gehad of nie.  Gaan jou die volgende jaar baie help.)
c.       Wanneer jy plante kos gegee het, watter soort kos en of dit ‘n verskil gemaak het.
d.      Watter blombolle aard in jou tuin en mooi floreer het.
e.      Watter tye van die jaar die wind erg gewaai het (help jou onthou wanneer om plante te stut).
f.        Watter tye van die jaar reënval goed was (Help jou beplan rondom geute skoonmaak en plant tye.)
g.       Handige tuin wenke en/of raad wat jy kry by “In en om die huis” en/of vriende.

3)      Neem fototjies van bure se plante en tuine om jou idees te gee van wat jy graag in jou tuin wil plant.  (So kan jy vooruit beplan en voorberei en jy weet mos as hy mooi groei in jou buurman se tuin is die kanse goed dat hy by jou ook sal mooi groei.)

Aan die einde van die jaar sal jy verbaas wees oor al die handige notas wat jy in die waardevolle boekie het.  Dit hoef nie ‘n groot taak te wees nie.  Maak dit ‘n taak van liefde of ‘n nuwe stokperdjie  (amper soos scrapbooking) en onthou om jou notas met ons te deel op ons facebook blad “In en om die huis” asook met vriende en kinders wat begin tuiniers is.