Tuesday 29 January 2013

Eierbrood-ham-en-kaas-toebroodjies



'n Gewone ham- en kaastoebroodjie word in eier gedoop en gebraai totdat dit goudbruin is en die kaas uitlokkend smelt. Die oorspronklike Italiaanse weergawe hiervan word "mozzarella in carozza" genoem, wat mozzarella in 'n wa / voertuig beteken. Jy kan dit met doodgewone brood maak en dan in driehoekies of vingertjies sny nadat jy dit gebraai het.

Franse brood
Ham, van jou keuse, of gebraaide spek
Mozzarellakaas (of ander kaas wat maklik smelt)
2 eiers
sout en varsgemaalde swartpeper
15 ml gemengde vars kruie (orego, grasuie, pietersielie, salie, ens.), fyngekap
25 ml olie

Maak toebroodjies met die mozzarella, ham en brood.

Klits die 2 eiers met 'n vurk. Geur met sout en peper en voeg die vars kruie by. Dis ook baie smaaklik sonder die kruie, indien jy dit nie tot jou beskikking het nie.

Bedek die bodem van 'n braaipan met olie en verhit. Doop die toebroodjies vinnig aan weerskante in die eier en plaas in die pan. Wanneer dit goudbruin is aan die onderkant, draai om. Jy kan dit so bietjie met die eierspaan platdruk om te verseker dat alles "jel". Loer of die kaas gesmelt is - dan is dit gereed.

Sny die broodjies in vorms van jou keuse en smul!