Sunday, 27 January 2013
Die alleen-ontbyt: Roerbraai gekapte kropslaai met ’n klein bietjie botter. Meng met feta-kaas en skep op (ongesmeerde!) geroosterde rogbrood. Bedek met roereiers, garneer met gekapte pietersielie.
Die piekniek-ontbyt:
Sny ’n lang Franse brood in die lengte deur. Rangskik snye soetmelkkaas en vars jong spinasieblare oor (ongesmeerde!) onderste deel. Skep lepelsvol gekaramelliseerde uie oor en geur met grofgemaalde swartpeper. Plaas boonste deel van brood bo-op, sny in porsies en draai toe in servette.
Die romantiese ontbyt: Sny appels, pere, perskes en pruime in skywe en plaas op ’n vel geprikte skilferkorsdeeg. Strooi met bruinsuiker en bak in warm oond vir 30 minute. Laat effens afkoel en garneer met sterk verouderde kaas. Of sprinkel met fyn kaneel en sit voor met effens versoete jogurt en sjampanje.
Die laat-ontbyt: Rol pizza- of pasteideeg dun uit en plaas op bakplaat. Bedek met klein tamaties, swart ontpitte olywe en skywe sagte kaas. Bak in warm oond tot net voor die deeg verbruin. Verwyder uit oond, geur met grofgemaalde swart peper en druppels pesto, rol op en plaas terug in oond totdat deeg verbruin. Sny in skywe en sit voor met heelgekookte eiers en vars groenslaai.
Die fees-ontbyt: Bak botterbroodjies met goue sultanas en sit voor met ongegeurde roomkaas. Berei ’n groot omelet met gekaramelliseerde rooi uie, gekerfte biltong en dun skyfies groenvye. Geur met grofgemaalde swartpeper, laat effens afkoel, sny in skywe en sit voor. Maak ’n koekstruif van vrugtekoek, nartjieskil en geroosterde amandels. Bedrup met sjampanje en sit voor met effens versoete mascarpone.