Thursday 22 November 2012

GEMMERBROODKRANS




Gemmerbroodkrans


GemmerbroodSif 720 g meel, 12 ml bakpoeier, 10 ml fyn kaneel, en 5 ml elk fyn gemmer en gemengde speserye saam in ’n bak. Verhit 250 g gouestroop, 400 g suiker en 60 ml botter saam. Haal dit van die plaat af en roer 60 ml suurlemoensap daarby in. Laat dit effens afkoel. Roer ’n derde van die meelmengsel by die stroopmengsel in, gevolg deur 1 groot eier. Roer om te meng, en roer dan die orige meelmengsel by om ’n deeg te vorm.
Knie die deeg vir ’n paar minute tot dit minder klewerig en elasties word. Rol dit uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en gebruik ’n bord of bak om ’n sirkel daaruit te sny. Sny die middel van die sirkel uit om ’n ring van omtrent 3-5 cm breed te vorm. Gebruik verskillende groottes koekiedrukkers om sterre uit die orige deeg te druk. Pak die krans en koekies op gesmeerde bakplate en bak dit teen 160 °C vir 8-15 minute tot dit goudbruin en die rande ligbruin is. Laat dit afkoel.

Harde versierselKlits 1 groot eierwit tot dit skuim. Klits geleidelik 250-300 g gesifte versiersuiker by. Voeg 3 ml suurlemoensap by – die mengsel moet so dik soos tandepasta wees. Moenie te veel versiersuiker bygooi nie – die versiersel moet sy vorm behou, maar steeds smeerbaar wees. Skep dit in ’n spuitsak wat jy van waspapier gemaak het.

Maak die kransRangskik die grootste sterre op die ring. Plak dit met die harde versiersel vas wanneer jy tevrede is met elkeen se posisie. Plak dan die orige sterre vas. Laat dit vir 24 uur staan om droog te word. Bind ’n lint aan die bokant vas en hang dit op.

(Idees Tydskrif)