Thursday 22 November 2012

Bessiekoekstruif




Genoeg vir: 6-8 na gelang van die grootte van die glase
Bereidingstyd: 1-2 uur
• 500 g mascarponekaas
• 15 ml strooisuiker
• 1 vanieljepeul, saadjies uitgeskraap
• 250 ml room

Bessiejellie
• 250 ml (210 g) strooisuiker
• 200 ml water
• 200 g gemengde aarbeie, bloubessies en frambose
• 5 ml gelatien oor 15 ml koue water gesprinkel

Vir voorsit• sponskoek
• ekstra aarbeie, bloubessies en frambose
• 60 ml bessielikeur of –sap
• 6 opdienglasies met ’n volume van sowat 250 ml


1 Meng die mascarpone, strooisuiker en vanieljesaadjies in ’n mengbak. Klits die room styf en vou in.

2 Maak die bessiejellie: Verhit die strooisuiker en water in ’n kastrolletjie en roer totdat die strooisuiker opgelos het. Verhit tot kookpunt en prut vir sowat 5 minute. Gooi die bessies by en haal die kastrol van die plaat af. Laat die mengsel staan tot dit effens afgekoel het en pols dit dan in ’n voedselverwerker tot glad. Giet die puree deur ’n sif in ’n skoon mengbak. Verhit die gelatien oor warm water of in die mikrogolf totdat dit opgelos het en gooi dit by die bessiepuree. Laat staan tot afgekoel.

3 Om saam te stel: Sny die sponskoek in skywe en sny dan die skyfies in sirkels sodat dit in die opdienglasies pas. Pak ’n skyfie sponskoek onderin elke glasie, skep ’n lagie vars aarbeie, bloubessies en frambose bo-op en sprinkel ’n bietjie bessielikeur bo-oor. Skep dan van die bessiepuree bo-op, gevolg deur ’n lagie van die mascarponemengsel. Herhaal die verskillende lae en eindig met ’n laag van die mascarponemengsel. Skep ’n paar vars bessies bo-op vir versiering en hou die koekstruif in die yskas totdat jy dit wil voorsit.

(Tuis Tydskrif)