Friday 8 June 2012

'n Maklike tuin vir mense met min tyd

Winter is 'n goeie maand om 'n nuwe tuin aan te lê, maar hou dit maklik:

Almal van ons droom van ‘n groot tuin waar die groen welige grasperk in sagte draaie loop rondom ‘n blombedding wat in oorvloed blom met kleure wat jou ure wil laat kyk en kyk, maar nie almal van ons het die tyd of geduld om so ‘n tuin te onderhou nie. (Selfs al wou jy hoe graag.)

Dit moet jou egter nie keer om ‘n pragtige tuin van jou eie te hê nie. Dis eintlik so maklik.
Jy moet net reg beplan…..  En nee dis nie ure se beplanning, prentjies teken en naslaan werk nie.  Ons gee vir jou bietjie maklike raad wat jy kan volg om ook ‘n mooi tuin te hê met min moeite.


As jy werk in die dag en nie elke aand tyd gaan hê om in die tuin te werk nie, moet  jy ‘n “makliker” tuin beplan.

Hier is wat jy in gedagte moet hou wanneer jy jou tuin begin: (5 Maklike stappe)

1)      Sit een of meer fokuspunte in die tuin (bv. ‘n voëltjiebad of standbeeld). 
2)      Plant ‘n koelteboom wat jy in die warm somer dae kan geniet en wat ter selfde tyd hoogte, karakter en fokus in jou tuin gee.
3)      Konsentreer op struike wat min aandag verg.  ‘n Paar struike in verskillende hoogtes en met verskillende blaar-kleure, kan ‘n pragtige tuin maak sonder dat jy heeltyd aandag aan hulle hoef te gee.
4)      Sny die gras gereeld.
5)      Gooi ‘n deklaag tussen die struike wat mooi kleur-kontras gee.  (Bv. groen struike en die bruin van boombas lyk sommer onmiddelik pragtig.)

Dis al vir eers.  
Gee nou gereeld water.  Aan die begin elke dag tot die plante goed gevestig is en sien hoe jou tuin begin floreer.

 Jy kan altyd nou soos die tyd aangaan en jy daarvoor kans sien, blommetjies tussen in plant en jou tuin mettertyd verder uitbrei.