Monday, 28 May 2012

Hoenderpastei met ’n patat-bolaag






Genoeg vir: 4-6
Bereidingstyd: 1 uur
Baktyd: 30 minute
Oondtemperatuur: 190 °C

• olyfolie
• 800 g hoenderdy-filette, in blokkies gesny
• 2 uie, opgesny
• 2 knoffelhuisies, fyngedruk
• 5 ml fyn komyn
• 5 ml fyn kaneel
• 2 ml fyn gemmer
• 5 ml droë fyngedrukte brandrissies (opsioneel)
• 125 ml hoenderaftreksel
• 15 ml heuning
• 30 ml gekapte koljander
• 2 oranje patats (of botterskorsie), in blokkies gesny
• 50 ml room
• 1 groot eier, liggies geklits
• 1 rol broskorsdeeg
• gesmelte botter

1 Verhit ’n lagie olyfolie in ’n kastrol. Voeg ’n paar hoenderdye op ’n slag by en roerbraai oor ’n hoë hitte tot bruin. Skep uit die pan en hou eenkant.

2 Verhit nog ’n bietjie olie en braai die ui tot goudbruin. Voeg die knoffel, speserye en brandrissies, as jy dit gebruik, by en roer tot die geure begin uitkom. Skep die hoender terug in die kastrol en roer goed. Voeg die aftreksel, heuning en koljander by en laat prut vir vyf tot 10 minute. Haal van die plaat af en laat afkoel.

3 Kook intussen die patats in kookwater. Dreineer en druk fyn saam met die room. Geur na smaak.

4 Verhit ’n bakplaat in die oond. Voer ’n pasteibak van 20 cm met die deeg. Prik die basis met ’n vurk. Verf melk oor die rande. Sny klein traandruppel-vorms of klein sirkels uit die res van die deeg en plak dit om die rand van die pastei sodat dit oorvleuel. Verf geklitste eier daaroor. Voer die pastei-dop met bakpapier en vul dit met droë bone of keramiek-bakboontjies. Bak vir 10 minute blind op die verhitte bakplaat. Verwyder die boontjies en papier.

5 Skep die vulsel versigtig in die pastei-dop. Skep die fyngemaakte patats bo-oor. Drup ’n bietjie gesmelte botter oor. Sit die pastei- bak op die verhitte bakplaat en bak tot die deeg goudbruin is.

(Idees)