Monday 23 April 2012

Gereed vir die winterkoue met 'n deklaag

As jy die winterkoue so aan jou voete begin voel, is dit die tyd om te dink aan ‘n deklaag vir die tuin.  Einde April is ‘n goeie tyd om ‘n deklaag tussen jou plante te gooi wat sal help om die wortels van jou plante te beskerm teen die winterkoue.

Kyk maar net na die natuur om te weet jy is op die regte pad.  Herfs gooi die bome hul blare af en so vorm dit ‘n natuurlike deklaag vir die bome se wortels in die winter.  Somer tyd vergaan daardie blare weer met tyd en gee voeding terug aan die grond.  Dis presies wat ons in die tuin kan doen.

Neutedoppe is ‘n goeie idee.  Veral rondom roosbome.  Dit is ‘n organiese deklaag en dit beteken dit gaan jou grond net goed doen.  Jy kan ook fyn boom bas gebruik (dalk ‘n goedkoper opsie).  Jy het nie 'n groot wa-vrag nodig nie.  Die deklaag moet net dik genoeg wees om die grond te bedek.

Die oomblik wat jy die deklaag tussen jou plante gestrooi het, kan jy terug staan en kyk hoe mooi dit lyk – sommer so in ‘n kits.  Dit gaan ook help om die onkruid in toom te hou in die maande wat jy dalk nie eintlik lus gaan wees vir krap in die tuin nie.