Monday 12 March 2012

Paasfees mannetjies in eierdoppe.

Saai saadjies in eierdoppe om hierdie oulike paasfees-mannetjies te maak.  Die kinders sal hierdie projek geniet:

Breek die eier so oop dat jy die boonste kwart van die dop afhaal, maar omtrent nog driekwart van die eierdop heel hou.  (Gebruik die inhoud vir ‘n heerlike ontbyt of dalk vir jou tuisgebak.)

Was die leë eierdoppe liggies uit en laat hulle droog word.  Teken dan mooi gesiggies op elke eierdop en plak die ogies vas soos op die fototjies.  Sit nou watte binne-in die eierdoppies, gooi ‘n paar saadjies daarop en sit weer ‘n lagie watte bo-oor die saadjies.  Plaas op jou vensterbank in die kombuis, hou die saadjies klam en sien hoe die mannetjies se “hare” begin groei.  Hoe meer saadjies jy gebruik, hoe weliger sal die haartjies van die mannetjies wees. 

Wat om te saai:
1)      Gras saad – jy kan dan die haartjies “sny”/knip en hulle sal weer groei.
2)      Bronkors – jy kan die haartjies dan sny en in jou kos gebruik.
3)      Sprietuie saad – jy kan die plantjies dan na Paasfees uitplant in die groentetuin en die eierdoppe sommer stukkend druk en rondom jou saailinge sprinkel sodat die slakke dit nie op-eet nie.