Tuesday 6 March 2012

Hibiskus (rosa sinensis) – Vuurblom

Hierdie pragtige aanwins vir enige tuin kom natuurlik voor in warmer streke, maar daar is ook van hulle wat goed aard in gebiede waar ryp voorkom.  Hier is bietjie meer inligting.

Die bome dra ‘n oorvloed van blomme en jy kan verskillende kleure aanskaf – Daar is rooi, geel, oranje en pienk skakerings en selfs wit.  Verkrygbaar in ‘n enkel of dubbel blom.  (Sien foto hierbo.)

In sub-tropiese areas waar nie ryp voorkom nie, blom hulle dwars deur die jaar.
Hulle groei redelik maklik en aard goed in die Wes en Oos Kaap.
In dele waar ryp voorkom, kan jy Hibiskus Syriacus (Roos van Saron) plant wat meer ryp bestand is, maar dis altyd ‘n goeie idee om die boom dan naby ‘n muur  te plant om bietjie hitte en beskutting te gee.

Die bome kan enigiets tussen 3 en 5 m hoog word.  Hulle hou van volson, maar kan in warm areas in half skadu ook geplant word met groot sukses.

Dis ‘n oulike boompie om langs ‘n oprit te plant.  ‘n Hele laning van hierdie bome sal pragtig lyk wanneer hulle in volle blom is.  Onthou net om hulle ten minste 1 meter van die skeidsmuur af en ± 1.5 meter van mekaar af te plant.  Dit gee hul genoeg spasie om mooi te groei.